Drie in hof oor polisiekaptein se moord

Kapt. Kenneth Poortman Foto: Kenneth Poortman, Facebook

Kapt. Kenneth Poortman Foto: Kenneth Poortman, Facebook

Drie mans wat in hegtenis geneem is in verband met polisiekaptein Kenneth Poortman se moord, sal tereg staan op ʼn reeks aanklagte waaronder moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, het die Pretoriase landdroshof Dinsdag gesê.

Staatsaanklaer Sipho Letsoalo het aan hooflanddros Desmond Nair gesê die staat het ʼn prima facie-saak teen Sipho Alfred Tlou (25), Thabo Mampa (ouderdom onbekend) en Themba Mbowane (34).

“Nog klagtes kan bygevoeg word,” het Letsoalo bygevoeg. “Die vuurwapen van die oorledene en sy voertuig is ook in hul besit gevind.”

Hy het die hof versoek om die saak uit te stel, aangesien die beskuldigdes ure ná die misdade in hegtenis geneem is, en die polisie het nog tyd nodig om die omstandighede te ondersoek waaronder Poortman vermoor is.

Maroela Media het vroeër berig Poortman is Sondag omstreeks 02:00 deur drie mans oorval naby die Blue Room Bar in die middestad van Pretoria.

Die staat se saak is dat Poortman aanvanklik met ʼn skerp voorwerp aangeval is voordat hy in sy motor ingeboender is. Hy is na ʼn plek in die noorde van Pretoria geneem waar die drie mans later omstreeks 10:00 in hegtenis geneem is.

Lede van die gemeenskap het die polisie ontbied toe hulle bloedvlekke op die verdagtes en in Poortman se motor opgemerk het. Sy motor is langs ʼn plakkershut parkeer. Volgens die polisie is die verdagtes met ʼn ongelisensieerde vuurwapen betrap, asook Poortman se telefoon en dienspistool.

Die saak is tot 5 Januarie uitgestel waar hulle formeel sal aansoek doen om borgtog. Die drie mans bly in aanhouding en Nair het hulle gewaarsku dat hulle tereg staan op baie ernstige aanklagte. “As julle skuldig bevind word, sal julle moontlik tot lewenslange tronkstraf gevonnis word,” het hy gesê.

Poortman was getroud met polisiebeampte ao Ann Poortman, die woordvoerder vir Pretoria-Sentraal-polisie. Sy is na die misdaadtoneel ontbied om inligting in te samel vir die media toe haar man se liggaam Sondagoggend gevind is. Sy het uitgevind die slagoffer is inderdaad haar man toe sy die liggaam langs die pad in Mabopane uitgeken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GES ·

Vir opgevoede mense is tronkstraf miskien ‘n afskrikmiddel maar vir barbare ….??? Nou wat nou, as daar van doodstraf gepraat word, is daar ‘n groep beswaardes met ‘n lys van redes waarom dit nie sal werk nie. Hierdie mense moet asb nou vir ons sê hoe die probleem opgelos gaan word. Dit kan nie langer so aangaan nie.

elize naude ·

GES opgevoede mense kom nie met tronkstraf in aanraking nie… en kyk maar na die usa… die land met een van die hoogste moordsyfers en doodstraf… die skrik hulle nie af nie…
mens moet die probleem aan die wortels pak… waar armoede en sosiale ongeregtigheid heers, daar heer chaos en wetteloosheid…
en dit begin al by die regerings wat korrup is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.