Drie in hof oor polisieman se dood

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Drie mans, wat daarvan beskuldig word dat hulle twee polisiebeamptes ontvoer en hulle geskiet het toe hulle ʼn beskermingsbevel wou uitvoer, het Vrydag in die Ntuzuma-landdroshof in Durban, KwaZulu-Natal verskyn.

“Sabelo Mkhize, Sibuniso Kwibisa en Lindokuhle Mchunu moet weer op 2 Oktober in die hof verskyn om formeel aansoek te doen om borgtog,” het Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, gesê. Hulle bly in aanhouding by die Greenwood Park-polisiestasie tot dan.

Die mans staan elkeen tereg op twee aanklagte van ontvoering, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, een aanklag van moord, een aanklag van poging tot moord, een klag van die onwettige besit van ammunisie en een van die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Maroela Media het vroeër berig die twee polisiebeamptes is Dinsdag na Namibia- informele nedersetting om ʼn beskermingsbevel uit te voer toe hulle oorval is, hul wapens afgeneem is, hulle gestroop is van hul polisie-uniforms en agterin ʼn vangwa gedruk is. Hulle is ongeveer vyf kilometer daarvandaan in die Ngcungcwini-gebied afgelaai waar die verdagtes hulle glo geskiet het. Sersant Vusimuzi Moyana is op die toneel dood en sers. Jabu Jojisa is kritiek beseer. Sy is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem.

Die drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle hulself Woensdagoggend aan die polisie in Marianhill oorgegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.