Drie in hof oor tiener se ‘huwelik’ met 61-jarige

Argieffoto

Die verhoor van drie beskuldigdes wat verband hou met ʼn 13-jarige verstandelik gestremde meisie wat na bewering ʼn slagoffer van mensehandel geword het en gedwing is om met ʼn man in sy sestigs te trou, is Maandag weereens in die hooggeregshof in Port Elizabeth uitgestel.

Dié verhoor was veronderstel om twee weke gelede te begin, maar regter Glen Goosen was ten tyde van dié hofdatum besig met ’n ander saak op die hofrol.

Dit is die jongste uitstel vir dié saak nadat dit ’n vorige keer aan die lig gekom het dat een van die beskuldigdes aparte regsverteenwoordiging sou nodig hê.

Die meisie se “eggenoot” was vandag in die hof met sy nuwe regsverteenwoordiger nadat hy aparte regsverteenwoordiger aangevra het.

Die hof het die nuwe prokureur, Motsamai Marele, gevra om die dossier na te gaan, sodat die verhoor Dinsdag kan voortgaan.

“Daar is ’n jong klaer wat van [elders] gebring moet word en dié jeugdige se getuienis moet vandeesweek afgehandel word,” het Goosen gesê.

Maroela Media het vroeër berig die oom van die meisie staan saam met twee ander mense tereg op ʼn reeks aanklagte insluitend mensehandel en die sluiting van ʼn gedwonge huwelik vir die doeleindes van uitbuiting. Die meisie se 61-jarige “eggenoot” staan tereg op twee bykomende aanklagte van verkragting.

Die drie beskuldigdes het nog nie op die aanklagte teen hulle gepleit nie.

Luidens die klagstaat is die meisie, wat volgens wet nie geïdentifiseer mag word nie, gedwing om met die ouer man, ʼn kennis van haar oom, te trou. Die oom se naam kan ook nie bekendgemaak word nie om die identiteit van die meisie te beskerm.

Ná die dood van haar ma, toe die kind nege jaar oud was, het sy in 2012 by haar oom in KwaDukuza, KwaZulu-Natal, gaan woon. In Desember 2014 is die meisie saam met die dogter van die derde beskuldigde, ʼn 63-jarige vrou, om dié se ma te besoek.

Sedert Januarie 2015 het die meisie saam met die 63-jarige vrou se dogter in Bizana in ʼn plattelandse gebied in die Oos-Kaap gaan bly waar sy skoolgegaan het.

Volgens die klagstaat het ʼn 61-jarige man van Port Elizabeth daarna ʼn lobola-ooreenkoms met die meisie se oom aangegaan en in November 2016 is die slagoffer, teen daardie tyd 13 jaar oud, gedwing om skool te verlaat en met die ouer man te trou. Die 63-jarige vrou het na bewering die meisie op ʼn taxi gesit Port Elizabeth toe.

Volgens die staat het die 61-jarige man haar op Njoli-plein ingewag en haar na sy huis in Greenbushes geneem waar hy haar glo gewurg en verkrag het. In Januarie 2017 het die man sy stiefdogter glo opdrag gegee om die slagoffer terug te neem na Bizana waar sy in haar “nuwe man” se huis gewoon het en moes werk as die 63-jarige vrou se skoondogter.

In April 2017 is die meisie na bewering teruggeneem Port Elizabeth toe waar die man haar glo weer verkrag het.

Al drie beskuldigdes is tans op borgtog uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sanna ·

Die arme kind. Dat ‘n groep mense so gewetenloos kan handel.

GM ·

Dis net siek. Wat gaan aan met die mense?
Hoekom ‘n meisie, amper 50 jaar jonger as jy, sal wil verkrag? Is daar geen gewillige tannies in daardie gebied nie?
En die mense wat sulke dinge reël… Mag jul almal kry wat jul toekom.

MW ·

Net sodra jy dink jy het nou alles gehoor … om van naar te word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.