Drie in hof wat glo geldwa in Noordwes beroof

Argieffoto: SAPD

Drie mans wat betrek word by ʼn transitorooftog in Klerksdorp in Noordwes het Maandag vlugtig in die landdroshof op die dorp verskyn. Lwazi Ngonyama (40), Moses Thenjwayo (63) en Kutlwano Mohale (26) is Vrydag in onderskeidelik Kagiso en Soweto in hegtenis geneem, het kapt. Tlangelani Rikhotso gesê.

Hulle bly in aanhouding tot hulle weer later vandeesmaand in die hof verskyn.

Rihkotso het gesê twee veiligheidswagte het op 25 Maart geld by ʼn kleinhandelaar in die Klerksdorpse middestad opgelaai. Een van die wagte het in die voertuig gewag, terwyl sy kollega die winkel binne is. Twee mans het hom op pad terug na die voertuig oorrompel, sy vuurwapen en die geldsak gegryp en gevlug. Hulle het verdwyn in ʼn wegkommotor wat buite gewag het, het Rikhotso gesê.

Die veiligheidswag wat in die voertuig gewag het, het die aanvallers gesien en hulle agternagesit. “Aanvanklik het hy hulle uit die oog verloor, maar hy het hulle uiteindelik weer in Swartstraat opgemerk, waar hy glo van agter teen hulle gestamp het. Die verdagtes het na bewering op die sekuriteitsvoertuig begin skiet, tot dit nie verder kon ry nie. Hulle het weggery en die gesteelde vuurwapen agtergelaat,” het Rikhotso gesê.

Hy het gesê die polisie se provinsiale eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad het onmiddellik ʼn reusesoektog na die rowers van stapel gestuur. Een van die vermeende rowers is in Soweto aangekeer en nog twee in Kagiso.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

? leser ·

gaan hulle ook eers 1 jaar in die tronk sit voor hul klagstaat en ondersoek volledig is ???????????

Pieter du plessis ·

Die sekuriteit se ondersoek span het hulle gearesteer.

Alida ·

Hierdie uitstelle mors geld en tyd. Sluit hulle toe en kry klaar. Daar is nog baie om te vang buite.

Diana ·

Ja dit is alweer verkiesingstyd so sekere politieke partye het geld nodig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.