Drie in Johannesburg-woonbuurt geskiet

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Drie mense is Sondagaand in twee verskillende skietvoorvalle in Westbury, in die weste van Johannesburg, doodgeskiet.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê in die eerste voorval is ʼn man, vermoedelik in sy 30’s, omstreeks 22:00 buitekant ʼn huis in Westbury doodgeskiet.

“Verdagtes het na bewering op drie mans wat ʼn motor gestoot het, begin skiet. Een van die mans is noodlottig gewond terwyl die ander twee ongedeerd daarvan afgekom het,” sê Peters.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is na die toneel ontbied en het die man buite ʼn huis teen ʼn muur aangetref. Hy het twee skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

Volgens Peters het daar twee uur later ʼn skietery in dieselfde woonbuurt plaasgevind. Die polisie is na die hoek van Roberts- en Du Plessis-straat ontbied waar hulle twee mans met skietwonde aangetref het.

Die slagoffers, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, is ook op die toneel dood verklaar.

Inligting omtrent die skietvoorvalle is verdag en die polisie stel ondersoek in om meer duidelikheid te kry. Die polisie is ook nog steeds op die spoor van die verdagtes.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie J ·

Nou wat van die aandklokreel en wat soek hulle buite om 22h00? As die polisie en weermag nie so besig was om mense van die tuinroete te intimideer nie sou daar genoeg wetstoepassers gewees het om die aandklokreel regdeur toe te pas. Die tuinroete is egter die teiken want dis waar die anti anc gedy en dis die ekonomie om te vernietig om sodoende van die opposisie onslae te raak.

Ou bees ·

Lyk my dis net dalk die boewe wat buite mag wees met die aandklok reël die gehoorsame burgers is binne hulle huise en die polisie moet laat kom word want hulle is nêrens te sien nie . Polisie sigbaarheid lyk maar orals n probleem te wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.