Drie in Kaap vas oor hondegevegte

Die polisie het beslag gelê op vier honde. (Foto: Kaap van Goede Hoop-DBV)

Amptenare van die Kaap van Goede Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) en Kaapstadse wetstoepassingseenheid vir dierebeheer het verskeie honde gered wat gebruik is in ʼn hondegeveg in Atlantis en drie verdagtes tydens ʼn klopjag aangekeer.

Die amptenare het Saterdag toegeslaan op die toneel waar twee van die honde nog besig was om te veg. Verskeie verdagtes het boonop probeer vlug.

Die ernstig beseerde diere is vir veeartsbehandeling geneem nadat hulle talle sny- en bytplekke opgedoen het.

Die vermeende organiseerder van die hondegeveg is kort daarna opgespoor en in hegtenis geneem nadat hy aanvanklik van die toneel laat spaander het. Die eienaar van die eiendom waarop die hondegeveg aangebied is, en nog ʼn persoon wat amptenare glo probeer verhinder het om hul pligte uit te voer, is ook aangekeer.

“Die ondersoek duur voort en verdere verdagtes word gesoek en sal in hegtenis geneem word,” lui ʼn verklaring van die stad.

Amptenare het ook beslag gelê op ʼn voertuig wat gebruik is om die diere te vervoer.

“Hondegevegte is barbaars en wreed en het geen plek in ons samelewing nie. Ek doen ʼn beroep op mense wat daarvan weet om asseblief na vore te kom sodat diegene betrokke aanspreeklik vir hul dade gehou kan word. As jy iets sien, sê iets,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad.

Die altesame vier honde waarop eindelik beslag gelê is, bly intussen by die DBV hangende die uitslag van die hofsaak.

“Hondegevegte is ʼn ernstige misdaad wat dikwels verbind word met ander misdadige bedrywighede soos die besit van onwettige vuurwapens, dwelms, onwettige dobbelary en gesinsgeweld. Ons is tevrede met die uitslag van die operasie en die inhegtenisnemings wat gedoen is,” sê hoofinsp. Jaco Pieterse verbonde aan die organisasie.

Pieterse het ook ʼn beroep op mense gedoen om enige voorvalle van hondegevegte aan te meld. “Ons gee die versekering dat elke saak ondersoek sal word en optrede sal volg.”

Wenke oor sulke gevegte kan ook anoniem deurgegee word.

Hondegevegte is ʼn onwettige praktyk in Suid-Afrika en diegene wat daaraan skuldig bevind word, kan ʼn boete van tot R80 000 of tronkstraf opgelê word.

Volgens die stad is dit ook ʼn misdaad om op enige manier betrokke te wees by dieregevegte, of om diere te teel, op te lei of aan te hou daarvoor. Dit is ook onwettig om diere spesifiek hiervoor te koop, te verkoop of in te voer.

Dit ook ʼn misdaad om na ʼn hondegeveg te kyk, of om op dieselfde perseel te wees waar só ʼn geveg plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Misky ·

Absoluut skokkend en gruwelik!!!! So ook die boete, want as jy diere verwaarloos en laat honger ly, kry jy miskien ‘n R1000 of R2000 boete. Hondegevegte R80 000 of tronkstraf. Albei dade behoort in dieselfde lig gesien te word en is ewe wreed.

Nie Verbaas ·

Ek sal bitter graag die persone persoonlik onder hande wil neem.

Samuel ·

Dit toon maar net weer hoe wreed en harteloos die mensdom is.

ES ·

Dis net jammer dat die straf vir hierdie tipe gedrag so lig is.

VaalDonkie ·

Is maar eintlik dieselfde tipe ding as bulgevegte en die bul stormloop in Spanje. Maar nou ja. Sies.

Miskruier ·

Die immigrante bring baie dinge in wat nie in dié land hoort nie.

VaalDonkie ·

Die bruinmense van Atlantis is die oorspronklike inwoners van die Kaap.

Yolande ·

Ik hoop ons eerdaags gaan lees dat hulle met R80 000 beboet is, anders gaan hulle tog net weer voort.

Anel ·

R 80 000.00 is kleingeld vir hulle. Hulle hoirt in die tronk!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.