Drie in Landbank-bedrogsaak gevonnis

Argieffoto

Die voormalige uitvoerende hoof van die Landbank, Philemon Mohlahlane, en sy twee medepligtiges is Donderdag ná ʼn uitgerekte hofsaak gevonnis op aanklag dat hulle dié bank in 2008 uit R6 miljoen bedrieg het.

Mohlahlane (63) is saam met ʼn voormalige parlementslid, Rubben Mohlaloga (45), en ʼn prokureur, Dinga Rammy Nkhwashu (41), in die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof gevonnis nadat hulle in Oktober 2012 deur die Valke in hegtenis geneem is.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sal Mohlahlane effektief sewe jaar tronkstraf uitdien, terwyl Mohlaloga 20 jaar sal uitdien. Nkhwashu is effektief 24 jaar tronkstraf opgelê.

Die beskuldigdes het in Januarie 2008, met behulp van die invloedryke Mohlahlane, wat in daardie stadium die uitvoerende hoof van die Landbank was, saamgesweer en R6 miljoen na die trustrekening van Masepule Dinga-prokureurs oorgeplaas. “Die geld is van Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging in die landbou, algemeen bekend as Agri-BEE, oorgeplaas,” het Mulaudzi verduidelik.

Dié geld was veronderstel om na voorheen benadeelde boere, vroue en die jeug in landbou te gaan sodat hulle grond kon bekom en boerderyondernemings vestig.

Volgens Mulaudzi is die oorplasing nie volgens die regte proses gedoen nie. Mohlahlane het die prosedures ondermyn en die fondsbestuurder by Agri-BEE opdrag gegee om die betrokke betaling sonder stawende dokumente goed te keur deur aan te voer dit was in opdrag van die ministerie.

“Die fondsbestuurder, wat uiteindelik vir die staat getuig het, het eers ʼn maand ná die betaling gedoen is, ʼn aansoek vir die bewilliging ontvang. Die aansoek het verband gehou met finansiering om grond, vee en prosesseringseenhede aan te skaf.”

Nadat die R6 miljoen in die trustrekening gedeponeer is, is die geld versprei tussen die beskuldigdes en ʼn plaas is vir R2 miljoen aangekoop, asook ʼn X5 BMW en ʼn BMW 118i vir Mohlaloga. R2,2 miljoen is na die sakerekening van Masepule Dinga-prokureurs oorgeplaas en vir die persoonlike voordeel van Nkhwashu aangewend.

Die ondersoekspan het ʼn waterdigte saak in die verhoor voorgehou, wat daartoe gelei het dat die trio in Januarie verlede jaar skuldig bevind is op aanklagte van geldwassery en bedrog. Die span het ook verseker dat daar beslag gelê is op bates van R3,2 miljoen wat deur die opbrengs van misdaad verkry is. Dit sluit die plaas en een van die BMW-voertuie in.

ʼn Aansoek om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding is afgekeur, maar ʼn aansoek om verlof tot appèl teen die vonnis vir al drie beskuldigdes is toegestaan. Borgtog wat wissel van R30 000 tot R100 000 is aan die drie beskuldigdes toegestaan ​​hangende die uitkoms van die appèl, het Mulaudzi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan ·

Die uitkoms van hierdie hofsaak is goeie nuus. Mag dit die begin van ‘n verskerpte veldtog teen korrupsie, selfverryking en diefstal wees…

Philippus Janse van Rensburg ·

Maar bykans 3 miljoen het nog steeds in die sakke van die misdadigers beland! Het hulle geen ander bates waarop beslag gelê kan word nie? Of betaal dit tog om misdaad te pleeg?

humor ·

Sjoe magtig 24 jaaaaaaaar…….Hoe lank sal zum en sy kaders dan moet sit???

Gert van Wierdapark ·

Skielik is die baie klein vissies in die Nuus! Ons soek dat die honderde miljoene en Biljoene Rande se skelms aan die pen moet ry. R6 miljoen is kleingeld!

Gert Nortje ·

Verlof tot appel Reeds skuldig bevind Hoekom borg So skuldig maar nog steeds op vrye voet Belaglik

Gatvol ·

Dink julle die met lang vingers sal leer. Nee, is mos lekker om n BMWX5 te ry. Wonder hoeveel voertuie op die pad word gesponser deur korrupsie. ???

Johanna Botha ·

Wat van VBS en die mense daar betrokke soos die eff narre ?

Waarheid1 ·

Hierdie klein vissies is maar net om die publiek en massas te paai voor die verkiesing.
Dis al

Stem ·

iemand het Vrydag oggend op RSG in gebel met v voorstel om fondse in n rekening te betaal en van daar na eskom se skuldeisers op sekere voorwaardes. ek wil verder gaan dat die munisipale skuld aan eskom so gedelg word deur dit namens (1)munisipaleteite oor betaal (2) aan eskom eisers betaal word. 2 vlieë word dan met een klap gedood. Ek dink daai inbeller se plan moet nie sommer afgeskiet word nie.

Johan H. ·

Zumperr is te oud om hokkie toe te gaan, geen mens leef 400 jaar nie. Dis omtrent wat hy en sy kabinet moet kry!!!per persoon natuurlik!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.