Drie in PE vas oor perlemoen

Foto verskaf deur SAPD Oos-Kaap

Drie persone is Sondag in die vroeë oggendure in die Cape Recife-gebied in Port Elizabeth in hegtenis geneem vir die oortreding van die Wet op Mariene Hulpbronne.

“In ʼn gesamentlike operasie tussen die Port Elizabethse honde-eenheid, blitspatrollie en ʼn span van Darkwater Ops het beamptes omstreeks 00:05 inligting ontvang dat perlemoenstropers in die gebied rondry,” het Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Die span het ondersoek ingestel en beamptes het gesien hoe perlemoen in ʼn wit Opel Corsa gelaai word. “Net ná 06:00 vanoggend is die voertuig agternagesit en toe pogings aangewend is om die bestuurder voor te keer, het hy in Beachroad in Summerstrand weggejaag. “Twee insittendes het twee sakke perlemoen uit die bewegende voertuig gegooi. Polisiebeamptes kon die voertuig voorkeer en dit tot stilstand bring.”

Toe die voertuig deursoek is, het beamptes op nog drie sakke en drie rugsakke met perlemoen afgekom. “Die twee sakke, wat uit die voertuig gegooi is, is ook gevind. Altesaam 1 952 eenhede perlemoen met ʼn geraamde waarde van R720 000 is gevind. Die voertuig is ook geskut.”

Drie verdagtes, tussen 18 en 26 jaar oud, is in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.