Drie in rooftog by Jhb-winkelsentrum beseer

Twaalf swaar gewapende mans het glo kort voor 13:00 op ʼn juwelierswinkel in die Oriental Plaza-winkelsentrum toegeslaan. (Foto: Twitter / Vision Tactical)

Drie mans is Dinsdagmiddag beseer toe hulle tydens ʼn rooftog by die Oriental Plaza-winkelsentrum in Johannesburg raakgeskiet is.

Twaalf swaar gewapende mans het glo kort voor 13:00 op ʼn juwelierswinkel in dié sentrum toegeslaan.

Luidens ’n verklaring deur Vision Tactical, wat op die voorval reageer het, is een van sy veiligheidsbeamptes asook ’n konstruksiewerker onder dié wat in die skietery beseer is.

Dit is nie duidelik wie die derde persoon is nie.

Russel Meiring, woordvoerder vir ER24, sê twee van die beseerdes het skietwonde aan hul bene opgedoen terwyl ʼn derde persoon in die arm geskiet is.

“Die drie pasiënte is op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale vervoer is.”

Volgens die maatskappy het 12 swaargewapende van die toneel gevlug.

“Twaalf verdagtes wat vermoedelik met outomatiese gewere gewapen was, het uit die winkelsentrum gevlug,” het Vision Tactical in sy verklaring gesê.

“Ons vra dat die wag en konstruksiewerker in julle gebede gehou word, en is bly om te vermeld dat albei in ’n bestendige toestand is.”

Volgens die maatskappy is verskeie motors, waaronder veiligheids- en polisievoertuie, glo ook buite die perseel in die skietery beskadig.

Dit is nie in dié stadium duidelik of enigiemand al in verband met die voorval in hegtenis geneem is of wat tydens die rooftog gesteel is nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maggies

Waarom word juweliers winkels nou so gereeld beroof?

Johan

O’nê,en daar was polisie ook teenwoordig! Winkel eienaars behoort hul te bewapen,veral in Chicago,ek bedoel J’burg.