Drie jonges op heterdaad betrap tydens hondegeveg

Argieffoto ter illustrasie

Argieffoto ter illustrasie

Drie jong seuns is Woensdag in Port Elizabeth in hegtenis geneem nadat hulle op heterdaad betrap is terwyl hulle met ’n hondegeveg besig was.

Ao. Alwin Labans, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes is onderskeidelik 14 en 16 jaar oud. Hulle was in ʼn beboste gebied langs Alexanderweg in Schauderville besig met die geveg tussen twee Amerikaanse veghonde.

ʼn Tang is glo in hul besit gekry wat na bewering gebruik word om die honde se kake oop te dwing wanneer hulle byt en nie wil laat los nie. Volgens Labans behoort een van die honde aan die 14-jarige seun.

Albei honde is aan die Dierebeskermingseenheid oorhandig. ʼn Woordvoerder van die Walmer-dierehospitaal het aan Maroela Media bevestig dat die diere daar deur dr. Stephan Ferreira behandel is.

Volgens Albans het die drie verdagtes Donderdag in die hof verskyn. Hy kon egter nie bevestig wat in die hof gebeur het nie, aangesien hy steeds op die dossier wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bleek Sannie ·

Die toename in hondegevegte is afgryslik. Dobbel weddenskappe (geld) speel ‘n groot rol. Honde word mishandel om hulle aggresief te maak, en selfs klein hondjies word vir groot honde gegooi om te verskeur. Dan is daar mense wat hulle ongewenste diere sommer vir enigeen gee! Dit breek altyd my hart!

Louis ·

Mooi so. Honde word mishandel en n slegte naam gegee deur menslike dade

pop ·

Dankie tog hulle is gevang. Barbaarse kinders, hulle word groot en doen nog boser dinge.

ANDRE ·

Kinders by verkragtings , kinders by moorde , kinders by inbrake en diefstalle , kinders betrokke by ernstige geweld , by ontvoering en wat ook al ????? , waarheen is ons oppad ! Hulle gaan ouer word en wat dan ?

Pit mens ·

Ek is n pitbull teler geregistreer natuurlik. Ek weet wat om met daai barbare te doen gooi hulle in n hok saam met n pitbul wat mishandel is dan kyk ons wat gebeur.

antjie ·

Pit mens ek stem met jou saam ek is ook n geregistreerde teler, en dit maak my moeg, moedeloos en baie kwaad, want dis deur mense soos die wat ons honde n slegte naam gee

Ou-skool opvoeding ·

Dis omdat kinders nie meer lyfstraf gegee word op skool nie, of selfs nie meer tuis nie. Hierdie is ‘n groot rede hoekom kinders deesdae geen respek het vir ander nie, dit word by hul gekweek deur ouers wat nie tyd het om hul behoorlik op te voed nie, en onderwysers wat nie toegelaat word om hul werk as opvoeders te doen nie. En dis nie asof ek 60 is nie, ek was in matriek toe lyfstraf afgeskaf word. Dit was chaos……kinders het bloot net opgehou omgee, want die ergste wat met hul kon gebeur, was detensie. Niks fout met ‘n goeie pakslae nie. Ek bedank my ouers en onderwysers wat dit toegepas het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.