Drie ‘kapers’ doodgeskiet

Argieffoto

Drie vermeende kapers is die afgelope naweek in twee verskillende voorvalle deur KwaZulu-Natalse polisiebeamptes doodgeskiet.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die eerste voorval het Vrydag teen 23:40 in Pietermaritzburg plaasgevind toe polisiebeamptes ʼn silwer Volkswagen Golf op die N3-Suid opgemerk het. Dié voertuig is vroeër as gekaap aangemeld nadat ʼn motoris in die Pietermaritzburg-sakesentrum deur twee kapers oorval is.

Die kapers het die motorbestuurder se vriend in die eerste voorval in die skouer gesteek en met die voertuig op die vlug geslaan.

“Die beamptes het die gekaapte voertuig agternagesit en voorgekeer. Twee verdagtes het uit die voertuig gespring en op die polisiebeamptes losgebrand. Die beamptes het teruggeskiet en een van die verdagtes is noodlottig gewond,” het Gwala gesê.

Die tweede verdagte, ʼn 35-jarige man, is op die toneel in hegtenis geneem. ʼn Ongelisensieerde vuurwapen is in sy besit gevind. Hy sal binnekort in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn.

Die tweede voorval het Dinsdag teen 11:30 in Inanda in Newtown, noord van Durban, plaasgevind. Volgens Gwala is ʼn 27-jarige man se wit Toyota Quantum-voertuig deur vyf gewapende verdagtes gekaap.

Lede van die Inanda-polisie het op die voorval gereageer en die verdagtes in die L-gedeelte van KwaMashu vasgetrek. “Die verdagtes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Tydens die skietgeveg is twee verdagtes, onderskeidelik 20 en 25 jaar oud, doodgeskiet,” het Gwala gesê. Die ander drie verdagtes kon daarin slaag om te vlug.

ʼn 9 mm-pistool is in een van die verdagtes wat geskiet is se besit gevind. Sake van kaping, poging tot moord en besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen word ondersoek en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Die slagoffer wat tydens die kaping beseer is, is ná die voorval na die hospitaal geneem.

Geen polisiebeamptes is tydens die twee voorvalle beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann Marx ·

Nou waar is die mense wat so knaend vra dat die doodstraf terug gebring word nou? Hier het julle dit. ‘n Senior Regter in die hoogste hof in die land, omring deur kollegas, en met genoeg tyd om AL die getuies, bewysstukke en argumente aan te hoor, sonder om aangejaag te word, MAG NIE die doodstraf uitspreek nie. Maar ‘n vars-uit-die-Kollege konstabel met ‘n vuurwapen kan in ‘n oogwink ‘n situasie opsom (verkeerd ook), verdagtes identifiseer (verkeerd ook), ‘n persoon verhoor (verkeerd ook), skuldig bevind (verkeerd ook), en dan en daar teregstel (al mag die verdagte onskuldig wees)? En dis vir almal aanvaarbaar? Maak nie saak hoe mens na hierdie land en sy “regering” kyk nie……….dit bly ‘n internasionale grap!

Hennie ·

Johann jy klink soos die tipiese linkse “gun control” tipe. Hall jou kop uit die sand en kyk wat om jou aangaan.

Pop ·

So mnr Marx, moet die polisie nou weghol as daar op hulle losgebrand word. Ek dink nie so nie. Ieder geval. Mooi werk, polisie!! Nou sal iemand anders nie gekaap word nie.

humor ·

Polisie doen so voort dan is al die lang hofprosidures en doodstraf oorbodig en voornemende misdadigers sal dan 2 maal dink.

Hein ·

Johan Marx verwag jy seriously die polisielede moet nie terugskiet nie? Sodat jy na die tyd kan kla hoe swak hulle opgelei is as een doodgeskiet is? Hopelik was jy nog nooit in hulle skoene nie

alwyn burger ·

Johann, Johann, Johann,. Die polisie dra nie vuurwapens vir spek en bone nie. S.A. is nie vir sissies nie—dit is leeuwěreld broer!

Johann Marx ·

Nope. Ek het weer my kommentaar gaan lees. Ek kry “NêRENS” waar ek sê die polisie mag nie terug skiet nie. Kom lees nou mooi stadig saam met my, dan verduidelik ek dit stap vir stap: Ek sê…..dis swak dat ‘n vars opgeleide polisiekonstabel in ‘n oogwink ‘n situasie kan opsom, die verdagtes aankla, veroordeel, skuldig bevind, en die doodstraf toepas………..terwyl ‘n hoogs geleerde regter in die hoogste hof, met AL die bewyse beskikbaar, omring deur kollegas en kenners, dit NIE kan doen nie. Dit is ‘n wan-balans…..wat nie sin maak nie. Verstaan julle nou? Moet ek weer probeer…….Dis beter vir ‘n krimineel om voor ‘n regter te staan as voor ‘n polisieman. Voor die regter kan hy NET tronkstraf kry…..voor die polisieman kan hy die doodstraf kry. Dit maak net eenvoudig nie sin nie.

Andre ·

Wat wil jy se Johan. Die Regter maak sy bevinding op getuienis voor die hof. Die polisiebeampte is besig om sy werk te doen en om sy lewe en die van ander te beskerm.
Skryf oor iets wat jy van weet.
Andre

Cherokee ·

alwyn burger het dit lekker opgesom deur uit te wys dat dit leeuwêreld is hierdie – jy het my laat glimlag, alwyn:-) Andre het bygedra deur attent te maak dat die regter kalm in ‘n hof sit met dae, weke, maande en selfs jare om ‘n slotsom te bereik, terwyl die polisieman breukdele van sekondes het en sy eie lewe en die van ander moet beskerm. Die KZN-Polisie sal hopelik skakers twee keer laat dink oor wat hulle doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.