Drie ‘kapers’ doodgeskiet

Argieffoto

Drie vermeende kapers is die afgelope naweek in twee verskillende voorvalle deur KwaZulu-Natalse polisiebeamptes doodgeskiet.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die eerste voorval het Vrydag teen 23:40 in Pietermaritzburg plaasgevind toe polisiebeamptes ʼn silwer Volkswagen Golf op die N3-Suid opgemerk het. Dié voertuig is vroeër as gekaap aangemeld nadat ʼn motoris in die Pietermaritzburg-sakesentrum deur twee kapers oorval is.

Die kapers het die motorbestuurder se vriend in die eerste voorval in die skouer gesteek en met die voertuig op die vlug geslaan.

“Die beamptes het die gekaapte voertuig agternagesit en voorgekeer. Twee verdagtes het uit die voertuig gespring en op die polisiebeamptes losgebrand. Die beamptes het teruggeskiet en een van die verdagtes is noodlottig gewond,” het Gwala gesê.

Die tweede verdagte, ʼn 35-jarige man, is op die toneel in hegtenis geneem. ʼn Ongelisensieerde vuurwapen is in sy besit gevind. Hy sal binnekort in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn.

Die tweede voorval het Dinsdag teen 11:30 in Inanda in Newtown, noord van Durban, plaasgevind. Volgens Gwala is ʼn 27-jarige man se wit Toyota Quantum-voertuig deur vyf gewapende verdagtes gekaap.

Lede van die Inanda-polisie het op die voorval gereageer en die verdagtes in die L-gedeelte van KwaMashu vasgetrek. “Die verdagtes het op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Tydens die skietgeveg is twee verdagtes, onderskeidelik 20 en 25 jaar oud, doodgeskiet,” het Gwala gesê. Die ander drie verdagtes kon daarin slaag om te vlug.

ʼn 9 mm-pistool is in een van die verdagtes wat geskiet is se besit gevind. Sake van kaping, poging tot moord en besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen word ondersoek en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Die slagoffer wat tydens die kaping beseer is, is ná die voorval na die hospitaal geneem.

Geen polisiebeamptes is tydens die twee voorvalle beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann Marx

Nou waar is die mense wat so knaend vra dat die doodstraf terug gebring word nou? Hier het julle dit. ‘n Senior Regter in die hoogste hof in die land, omring deur kollegas, en met genoeg tyd om AL die getuies, bewysstukke en argumente aan te hoor, sonder om aangejaag te word, MAG NIE die doodstraf uitspreek nie. Maar ‘n vars-uit-die-Kollege konstabel met ‘n vuurwapen kan in ‘n oogwink ‘n situasie opsom (verkeerd ook), verdagtes identifiseer (verkeerd ook), ‘n persoon verhoor (verkeerd ook), skuldig bevind (verkeerd ook), en dan en daar teregstel (al mag die verdagte onskuldig wees)? En dis… Lees meer »

Pop

So mnr Marx, moet die polisie nou weghol as daar op hulle losgebrand word. Ek dink nie so nie. Ieder geval. Mooi werk, polisie!! Nou sal iemand anders nie gekaap word nie.

humor

Polisie doen so voort dan is al die lang hofprosidures en doodstraf oorbodig en voornemende misdadigers sal dan 2 maal dink.

Hein

Johan Marx verwag jy seriously die polisielede moet nie terugskiet nie? Sodat jy na die tyd kan kla hoe swak hulle opgelei is as een doodgeskiet is? Hopelik was jy nog nooit in hulle skoene nie

alwyn burger

Johann, Johann, Johann,. Die polisie dra nie vuurwapens vir spek en bone nie. S.A. is nie vir sissies nie—dit is leeuwěreld broer!