Drie keer lewenslank ná kind se moord

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

’n Man is vandeesweek drie keer lewenslank gevonnis vir die moord op ’n vierjarige dogtertjie van Noordwes.

Klein Tshimologo Lotshabeng se naakte liggaampie is in Mei verlede jaar in die bosse by die Kgomotso-nedersetting in die omgewing van Taung gevind. Sy is deur ’n kollega van haar ma verkrag voordat sy vermoor is.

Bafana Johannes Mans (26) is Woensdag in die rondgaande hof op Vryburg twee keer lewenslank gevonnis nadat hy vroeër op twee aanklagte van verkragting skuldig bevind is. Hy is ook ’n derde lewenslange vonnis vir die kleuter se moord opgelê.

Mans is ’n verdere vyf jaar tronkstraf opgelê vir die ontvoering van klein Tshimologo.

“Die vonnis in aanklagte 2, 3 en 4 sal gelyklopend uitgedien word,” sê kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Maroela Media het vroeër berig Tshimologo se ma het haar die aand van haar moord na ’n vriend se huis geneem om daar oor te slaap. Die ma is na ’n plaaslike taverne om te gaan kuier en het toe ook by dié vriend se huis oorgeslaap.

Mans het ná die kuier by die taverne Tshimologo se ma na haar vriend se huis vergesel waar hy gewag het totdat sy aan die slaap geraak het voordat hy klein Tshimologo ontvoer het. Mans het haar na nabygeleë bosse geneem waar hy haar verkrag en vermoor het.

Mans is vyf dae later in sy huis in Jan Kempdorp in die Noord-Kaap in hegtenis geneem.

Die staatsaanklaer in die saak, adv. Xolisile Philisane, het tydens die saak versoek dat die regter nie van die minimum voorgeskrewe vonnis afwyk nie, aangesien die misdryf op ’n hulpelose minderjarige gepleeg is. Hy het ook aangevoer dat Mans geen berou getoon het vir sy optrede nie, aangesien hy versuim het om standpunt in te neem en Tshimologo se familie om verskoning te vra.

Mans is sedert sy inhegtenisneming verlede jaar in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Debbie ·

Aangesien die doodstraf afgeskaf is, moes dit lewenslank sonder die opsie van parool gewees het. Ek kan nie verstaan hoekom regters 3 lewenslange vonnisse gee en dan sê dat dit samelopend uitgedien moet word nie. Hoekom sê jy dan 3 lewenslange vonisse? Dit beteken hy kan oor 15 uitkom as hy ‘n eerste oortreder is. Dit het niks met wraak te doen nie, maar sulke mense moet permanent uit die samelewing verwyder word. Hoekom ‘n onskuldige kind vermoor? Kan jy dink hoe bang sy moes gewees het? En moenie sy agtergrond as verskoning vir sy dade gee nie. Al het jy ‘n moeilike agtergrond gehad, gee dit jou nie die reg om dit op onskuldige mense uit te haal nie. Hierdie is ‘n onskuldige kind. Sy het dit nie verdien nie. Sulke misdadigers dink hulle is geregtig om sulke misdade te pleeg.

Sandra ·

Ja nee, doodstraf is enigste uitweg. Spesifiek in die geval. Nou gaan die belastingbetaler vir die res van sy lewe vir hom sorg en wat kry die dogtertjie se ma uit die deal uit? Lewenslank sonder haar kind.

Danie ·

Daar geen straf vir sulke misdadigers in SA.Daar sal daadwerklik nadat dit reeds te laat is na die strawwe vir sulke midaad gekyk word.

JAN ·

Alewig GELYKLOPEND!!! Wat ‘n KLUG is ons regsstelsel nie?! Of jy nou EEN mens of TIEN mense vermoor bly die straf presies dieslelfde. BAAAH!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.