Drie keer lewenslank vir moord op polisievrou, man

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee mans is Vrydag in die Middelburg-hooggeregshof in Mpumalanga skuldig bevind aan die moord op ’n polisiebeampte en haar man. Hulle is ook skuldig bevind aan die moord op ʼn medepligtige.

Thulani Maisame (33) en Martin Mohlala (27) is elk drie keer lewenslank en ʼn bykomende 43 jaar tronkstraf opgelê vir drie aanklagte van moord, twee aanklagte van roof, die afvuur van ʼn vuurwapen in die openbaar, asook twee aanklagte van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die misdade is tussen 30 November en 1 Desember 2019 in die Thulamahashe-distrik in Agincourt, Mpumalanga, gepleeg.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die twee beskuldigdes en hul medepligtige, Mandla Sambo, het op 1 Desember verlede jaar in die polisiebeampte, Thembisile Fortune Ndlovu, en haar man, Jabulani Harry Khoza, se huis ingebreek.

Hulle het die egpaar in hul slaapkamer aangetref en die sleutels van hul voertuig, wat in die erf geparkeer was, geëis. ʼn Skietery het tussen Ndlovu, haar man en die drie verdagtes uitgebreek. Ndlovu en die beskuldiges se makker, Sambo, is doodgeskiet.

(Foto: NVG)

Khoza is gewond en is later in ʼn hospitaal dood.

Maisame en Mohlala is ʼn paar dae later op verskillende plekke vasgetrek.

Kort voor dié voorval in November, het Maisame, Mohlala en Sambo ook op slagoffers naby Thulani Primary School toegeslaan wat besig was om voorbereidings vir ʼn bruilof te tref.

Die bende het slagoffers met vuurwapens gedreig en hul selfone, voertuigsleutels, beursies, gordels en selfs skoene geëis. Hulle het daarna in ʼn silwer Volkswagen Jetta van een van die slagoffers gevlug.

ʼn Dag later het die drie by die Halfway Liquor Restaurant in die omgewing met die gesteelde Volkswagen Jetta aangekom en vuurwapens op die klante gerig. Hulle het skote in die plafon afgevuur en almal beveel om op die grond te lê. Hulle het die kasregister leeggemaak asook lugtyd en sigarette gesteel. Daarna het hulle die voertuig by die restaurant agtergelaat en gevlug.

Nyuswa sê Maisame en Mohlala het in die hof hul betrokkenheid by die moord van Ndlovu en haar man ontken en gesê hulle was nie op die toneel ten tyde van die moord nie. Hulle het beweer dat hulle  die hele aand by ʼn plaaslike taverne gekuier het.

(Foto: NVG)

Adv. Derrick Mashego, die staatsaanklaer, het bewyse van verskeie getuies gelei, onder meer verklarings van twee klante van die restaurant wat Maisane en Mohlala as die skuldiges geïdentifiseer het.

Mohlala is tydens ʼn uitkenningsparade uitgewys en daar is bevestig dat albei beskuldigdes op die moordtoneel van Ndlovu en haar man was. Sambo se vrou het ook die getuienis van die klante bevestig, terwyl Ndlovu se buurman ook getuig het.

Volgens Nyuswa het die staat ter strafverswaring die moord as wreedaardig beskryf. Die staat het gesê Ndlovu en haar man is in hul slaapkamer aangeval en daar is skote voor hul sesjarige dogtertjie afgevuur.

“Dit net om hulle van hul voertuig te beroof,” het die staat aangevoer.

“Wat die saak vererger het, was dat een van die oorledenes ʼn polisiebeampte was.”

Die hof het Maisame en Mohlala ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf opgelê op elke aanklag van roof met verswarende omstandighede, vyf jaar gevangenisstraf elk op aanklag van die afvuur van ʼn vuurwapen, vyf jaar gevangenisstraf elk vir die besit van ongelisensieerde vuurwapen, drie jaar gevangenisstraf elk op die aanklagte van die onwettige besit van ammunisie.

Die hof het ook die twee onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Die waarnemende direkteur van openbare vervolging, adv. Matric Luphondo, het die goeie werk van die vervolgings- en ondersoekspan geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

“Wat die saak vererger het, was dat een van die oorledenes ʼn polisiebeampte was.”
Waarom is dìt erger? Énige moord is wreedaardig en ongewens.

C-Monster ·

Ek stem Cherokee. Lyk my ons is almal “equal”.
Maar party net meer as ander.

Anel ·

Onbevoeg om wspen te besit. Het hulle dan ooit lisensies gehad.?

C-Monster ·

Sjoe!! 3 keer lewenslank en 43 jaar. Klink indrukwekkend. Maar al hierdie vonnisse loop gelyktydig en fan kry hulle later parool en effektief sit hulle dalk nie eers 15 jaar nie . .

agnes ·

Nog n moordenaar wat ons moet voed en versorg. Bring die doodstraf terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.