Drie keer meer plaasaanvalle in dié provinsie

(Argieffoto: pixabay)

Die aantal plaasaanvalle in die Oos-Kaap het die afgelope vier jaar drievoudig gestyg. Dié provinsie is een van twee in Suid-Afrika met die hoogste plaasmoordsyfer en gaan boonop gebuk onder veediefstal.

Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder vir veiligheid en sekuriteit in die Oos-Kaap, het Woensdag in ʼn verklaring na die jongste statistieke verwys wat deur die provinsiale LUR vir veiligheid, Weziwe Tikana-Gxothiwe, in antwoord op parlementêre vrae verskaf is.

Luidens dié statistieke het daar 74 plaasaanvalle in die Oos-Kaap gedurende die boekjaar 2019-’20 plaasgevind. Dít is ʼn skerp toename vergeleke met die 26 plaasaanvalle wat tydens die 2016-’17-boekjaar plaasgevind het, het Stevenson uitgewys.

Luidens die statistieke is daar 34 plaasaanvalle in 2017-’18 en 48 plaasaanvalle in 2018-’19 in die Oos-Kaap aangemeld.

Volgens Stevenson het 14 van die 74 plaasaanvalle wat in die afgelope boekjaar in die Oos-Kaap aangemeld is, in die omgewing van Addo plaasgevind. Dié omgewing is dus blykbaar ʼn brandpunt vir plaasaanvalle in die provinsie.

Die nasionale misdaadstatistieke wat verlede maand bekend gemaak is, toon dat die Oos-Kaap en die Vrystaat die hoogste plaasmoordsyfer in Suid-Afrika het – 12 plaasmoorde is in albei provinsies in die afgelope boekjaar aangemeld.

Stevenson het ook daarop gewys dat veediefstal in die Oos-Kaap gedurende die algehele landwye afsondering toegeneem het.

Altesaam 5 636 stuks vee met ʼn beraamde waarde van R17,9 miljoen is tussen Mei en Julie vanjaar in dié provinsie gesteel.

Stevenson het nou die LUR uitgedaag om ʼn dringende virtuele landelike veiligheidsberaad in die provinsie te reël, waar raad en hulp van ʼn wye verskeidenheid kundiges verkry kan word.

“ʼn Aanval op die boeregemeenskap is ʼn aanval op die provinsie se voedselsekerheid en werkgeleenthede. Daarbenewens is dit ʼn aanval op die sielkundige welstand van alle plattelandse gemeenskappe wat hierdeur gedwing word om in vrees te leef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Luister

Ons regering gee hoegenaamd nie om nie.

Yvonne

Luister…..dit pas dalk die regering….andersins sou hulle opgetree het

Jack

Ek glo ook dat die provinsie op alle gebiede die swakste is. Die boere sal dus nou vir hulle eie veiligheid moet instaan. Geen hulp vanaf die regering kan verwag word nie.