Drie kinderliggame in rivier in Limpopo

Veewagters in die gebied het die kinders se liggame in die water opgemerk. (Foto: SA Polisie)

Die liggame van drie skoolkinders van die Phooko-nedersetting wat verlede week spoorloos verdwyn het, is in die Mohlabetserivier, buite Groblersdal, gevind.

Nonjabulo Ngomane (9) en haar boetie, Themba (8), asook ʼn buurseun, Katlego Sibande (15), is verlede Maandag by hul huise weg op pad skool toe en het glad nie weer teruggekeer nie.

Die kinders se verdwyning is by die Dennilton-polisiestasie aangemeld en die polisie en inwoners van die gebied het dadelik met ʼn soektog na die kinders begin, sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Die voorlopige polisieondersoek het daarop gedui dat die kinders moontlik ontvoer is nadat iemand glo gesien het hoe hulle in ʼn wit Toyota Avanza klim. ʼn Saak van ontvoering is ook aanhangig gemaak.

Veewagters by die rivier het Dinsdag die drie liggame in ʼn poel water opgemerk en die polisie ontbied.

Die kinders was steeds in hul skoolklere geklee en lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid het die liggame uit die water gehaal. Die kinders se onderskeie families het hulle reeds uitgeken.

“Nadoodse ondersoeke sal die oorsaak van hul dood bepaal,” sê Mojapelo.

Die polisie doen in hierdie stadium ʼn geregtelike doodsondersoek.

Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiehoof in die provinsie, het opdrag gegee dat ʼn spoedige ondersoek na die kinders se dood gedoen word.

  • Enigiemand met inligting kan kapt. Elias Mashegoane by 073 391 1978 bel, of inligting by die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chantel ·

Genade, wat word van die mensdom om weerlose kinders so te verniel, mag jy wat hierdie kinders se lewens so gewetenloos gevat het beoordeel word.
Sterkte aan die gesinne en families.

Misky ·

Daai arme ouers en een ma het 2 kinders tegelyk verloor en op so wrede manier. RIV

Belinda ·

Ai shame dis nog klein kindertjies. Ek wonder of hulle ontvoer was en toe daar gelos is en of hul ompaaie gevat het.

Toy ·

Ek verstaan nie hoekom moet mens iemand oplaai net om later te vermoor.

Skappie ·

Wie kan so iets aan ‘n kind doen? Sterkte aan die ouers en gesinne van hierdie kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.