Drie kinders in Port Elizabeth doodgeskiet

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in die Oos-Kaap vra die gemeenskap van Bethelsdorp moet na vore kom met inligting wat diegene aan die kaak kan stel wat verantwoordelik is vir die koelbloedige aanval op sewe onskuldige mense, van wie twee om die lewe gebring is.

Kol. Priscilla Naidu, Port Elizabethse polisiewoordvoerder, sê onbekende mense het na bewering Vrydag omstreeks 21:20 ʼn huis in Capuletstraat, Booysen Park, se deur oopgeskop.

“Die verdagtes was gewapen en het ʼn 26-jarige slagoffer genader en ʼn goue ketting van sy nek afgeruk,” sê Naidu. “Hulle het ook twee selfone geneem. Na bewering het hulle daarna losgebrand op die mense in die huis.”

Deacon van Rooyen (16) en Ruaan Willemse (8) is noodlottig gewond en nog vyf mense, tussen 17 en 36 jaar, het skietwonde opgedoen. Al die beseerdes is in die hospitaal opgeneem.

Naidu sê die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid van die Baai ondersoek sake van moord, poging tot moord en gewapende roof.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het haar meegevoel met die oorlede kinders se naasbestaandes betuig en wens die beseerdes spoedige beterskap toe. “Ons kan nie toelaat dat sulke jong en onskuldige lewens in sulke tragiese omstandighede kortgeknip word nie,” het sy gesê.

“Hierdie misdadigers woon in ons gemeenskappe; daarom doen ons ʼn ernstige beroep op die gemeenskap om saam met die polisie te werk en toe te sien dat hulle spoedig aan die man gebring word.”

Sy sê ʼn span speurders werk hard om seker te maak dat die aanvallers aangekeer word.

In ʼn afsonderlike skietery, ook in Bethelsdorp, is nog ʼn tiener, Chadwin Calvert (17), Saterdag doodgeskiet.

Enigeen met inligting kan lt.kol. Mike Grobler by 082 442 1825, Stop Misdaad by 086 001 011 of Bethelsdorp se polisie by 041 404 3005 bel. Alle inligting sal vertroulik gehanteer word en mense mag vra om naamloos te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Langtoon ·

Net weereens n klinkklare bewys wie die misbruikers van wapens is!!
Skelms, rowers en boewe nie wapenlisensiehouers of diegene wat per ongeluk die hernudatum gemis het nie!
Gaan soek die wapens daar waar ons weet hulle is!!
Maar die polisie doen dit nie, want dis makliker om jag te maak op iemand wie se “ onwettige” wapen veilig in sy kluis is!

Willem Grobler ·

Hierdie krimineelgevulde land maak my moedeloos! Dié soort barbare behoort álle regte in terme van die grondwet te verbeur en moet so vêr weggesluit te word dat hul ontbyt ná donker by hulle uitkom.

Francois ·

Die gangs raak net erger….maar nog nie so erg soos die polisie nie

Blommie ·

Omtrent elke dag woord daar berig oor die een of ander skiet voorval in port-Elizabeth.
Is die BENDE geweld buite beheer daar vir die polise, want dan moet die weermag ingeroep word of het die polise n vinger in die paai met bendes.
Dis belaglik laat soveel mense en veral kinders hulle lewens deur bende geweld moet verloor.
Sterkte aan almal wat geraak word hier deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.