Drie kinders sterf toe muur ineenstort

‘n Foto van die toneel waar die muur ineengestort het (Foto: Facebook)

Drie kinders van Doornfontein in die Johannesburgse middestad is Maandag dood toe die muur van ʼn verlate gebou op hulle ineengestort het.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van Johannesburg se nooddienste, het dié voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Mulaudzi het die voorval omstreeks 13:00 Maandagmiddag plaasgevind. Hy sê drie kinders, tussen die ouderdom van drie en 10 jaar oud, het buite die gebou gespeel toe die muur skielik ineengestort het.

Volgens hom is dié verlate gebou onwettig bewoon en is dit ʼn probleem wat die Johannesburgse metro al ʼn geruimte tyd lank teister.

“Dit gebeur telkens dat die verlate geboue beset word,” verduidelik hy. “Die bewoners rig dan wankelrige strukture binne dié geboue op wat reeds onstabiel, gevaarlik en wankelrig is. In dié spesifieke geval is die gebou ook onwettig bewoon en die oorlede kinders is die kinders van die bewoners.”

Mulaudzi sê nooddienste het vir ʼn geruime tyd probeer om die kinders weer by te bring, maar hulle is op die toneel dood verklaar.

Volgens hom is die metro tans besig om talle onbewoonde geboue in die middestad te sloop.

Mulaudzi sê die polisie was op die toneel om ʼn ondersoek van stapel te stuur.

Stad Johannesburg se brandbestryders het gesê ongeveer 30 plakkershuise is in die verlate pakhuis op die hoek van Davies- en Rockeystraat opgerig.

Johannesburg-nooddienste het gesê hulle vermoed die gebou het ineengestort as gevolg van die gebou se ouderdom en gebrek aan instandhouding. Die gebou is intussen ontruim en alle haweloses sal bygestaan word deur die stad se rampbestuurspan.

Burgemeester Herman Mashaba het na die toneel gehaas en gesê sulke tragedies kan voorkom word deur die proses, om verlate geboue weer te herwin, te bespoedig. “Die kinders het hul lewens verloor omdat ons inwoners nie ʼn veilige plek het om te woon nie. Dit is waarvoor sogenaamde menseregteprokureurs baklei – die reg vir mense om te bly waar hulle wil en in enige tipe struktuur, ondanks die gevare. Waar is hulle nou om hierdie tragedie te verdedig? Hoeveel kinders moet sterf?”

Mashaba en Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het bevestiging ontvang dat die muur afgebreek sal word.

Die eienaar van die gebou het ook by die toneel opgedaag om die skade te ondersoek. Hy het gesê die gebrek aan instandhouding is weens ʼn dispuut wat voortduur oor die regmatige eienaar van die gebou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wurmpie ·

Kla die ouers aan vir moord. Hul moes nie daar gewees het nie

Bewoording ·

Vir my lyk dit eerder of die muur omgeval het. Dakke of geboue stort ineen.

Lola ·

Herman, en as die geboue dan nou in ‘n beter toestand is, dan kan hulle daar bly? Op wie se onkostes?

Sussie ·

Dit is omdat hul wil en kan intrek waar hul wil alle oop gronde en geboue word so beset en op die belasting betaler se rug ry.

Shame ·

Ai, dis jammer dat mense so onsimpatiek is. Kinders is kinders. Hoe sal jy optree as dit jou kind was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.