Drie kinders van SA gesin dood in NZ

(Argieffoto: Canterbury Police/Facebook)

’n Suid-Afrikaanse gesin wat sowat drie weke gelede in Nieu-Seeland aangekom het, se drie kinders is Donderdagaand dood aangetref.

Die polisie en nooddienste is kort na 22:00 (NZ tyd) na ’n eiendom in Parkside, Timaru, ontbied waar die drie kinders, ’n tweejarige tweeling en nog ’n kind (6), dood gevind is.

’n Vrou is ook by die eiendom aangetref en na ’n hospitaal in Timaru geneem waar sy in ’n stabiele toestand is.

“Die ondersoek na hierdie tragiese voorval is nog in ’n baie vroeë stadium, maar ons kan bevestig dat niemand anders gesoek word in verband met die dood van die drie kinders nie,” het insp. Scott Anderson, ’n polisiewoordvoerder, gesê.

Die gesin het volgens die polisie verlede week in Timaru aangekom nadat hulle eers in kwarantyn was met hul aankoms in Nieu-Seeland vanaf Suid-Afrika. Timaru is ’n hawestad in die suidelike Canterbury-streek, sowat 157 km suidwes van Christchurch.

“Die polisie werk steeds om al die naasbestaandes in kennis te stel en om daardie rede, en om die privaatheid te beskerm van almal wat deur die tragedie geraak word, sal die polisie nie in die stadium enige verdere besonderhede rakende die slagoffers bekend maak nie,” het Anderson gesê.

Stuff.co.nz, ’n digitale nuusplatform in Nieu-Seeland, berig die kinders se ouers is albei dokters en dat die eiendom waar hulle tuisgegaan het glo as behuising vir personeel van ’n hospitaal gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ONTPS ·

Dit is verskriklik tragies, innige simpatie aan die familie

Misky ·

Sjoe, dis vreeslik hartseer. Simpatie met die familie en in besonder daai arme man

melW ·

Dis hartbrekend. Om te emigreer na ń nuwe land het ń impak, en die rede vir hierdie slag sal dalk kan verduidelik as die ondersoeke afgehandel is.

Linette ·

Slegs as mens self al ge- emigreer het kan jy besef watse tol dit op ń gesin eis. En dan saam met 2 weke isolasie tydens vlak 4 Inperking, dit moes moeilik wees vir die hele gesin wees????????

Skappie ·

Dit is verskriklik. Innige simpatie aan die mamma en pappa en ook familie en vriende van hierde gesin. Mag julle deurgedra word deur onse Liewe Heer, en mag Hy julle styf in sy arms vashou.

Linette ·

Ons SAFFAS hier in NZ is almal verpletterd oor die nuus en sal alles moontlik doen om hulp en ondersteuning te bied????????????????. So jammer aan elke een wat geraak is deur hierdie ontsaglike tragedie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.