Drie langs snelweg geskiet toe band bars

Argieffoto: https://pixabay.com

Twee metropolisiebeamptes en ʼn motoris is Maandag in die vroeë oggendure op die N2-snelweg naby Borcherd’s Quarry, Kaapstad, op kort afstand geskiet.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, is twee metropolisiebeamptes omstreeks 02:00 uitgeroep nadat kamera-operateurs klippe op die snelweg gewaar het.

By beamptes se aankoms op die toneel het ʼn motoris reeds oor die klippe in die pad gery en gevolglik van die snelweg afgetrek om ʼn gebarste band te vervang.

ʼn Ander motor het op dié oomblik by die motoris stilgehou waarna ʼn verdagte die motoris geskiet het, sê Smith.

Die beamptes het die motoris te hulp gesnel en die verdagte het ook op hulle losgebrand. ʼn Vrouemetropolisiebeampte (44) is in haar linkerbeen gewond en haar kollega (44) is in die regterbobeen en lies geskiet.

Die aard van die motoris se beserings is in dié stadium onduidelik.

Volgens Smith het die verdagte daarna een van die beamptes se vuurwapen, asook ʼn tweerigtingradio en sy persoonlike items geroof voordat hy op die vlug geslaan het.

Die polisie is tans op soek na die verdagte. Die Stad Kaapstad het Maandag ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die opsporing en vervolging van die skuldige kan lei.

Die beamptes en motoris word tans in ʼn hospitaal behandel.

Enigiemand met inligting word versoek om die polisie of die Stad se noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 vanaf ʼn selfoon of by 107 vanaf ʼn landlyn te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Dries du Toit ·

Die Weskaap is nou al erger as Gauteng. Waar de hel gaan ons eindig

Anoniem ·

Wel knapgedaan vir die Metro polisie se spoedige optredes

humor ·

Onder in die Kaap gaan dit deesdae rof. Misdaad is beslis aan die toeneem.

Hector Jooste ·

Bewapen wetsgehoorsame landsburgers sodat hulle hulself effektief teen gewelddadige boosdoeners kan beskerm. Dit is tyd dat die reg van alle wetsgehoorsame SA-burgers om vuurwapens te mag besit asook die reg om hulself met vuurwapens te mag verdedig teen misdadigers as ‘n onvervreembare reg in die SA-grondwet ingeskryf word.

Michael ·

dit gaan in ons land so omdat daar nie n opgeleide SAPD is nie hoe kan n mens beskerming van die SAPD of metro verwag as hulle so maklik geskiet word en beroof word nou is daar nog n SAPD vuur wapen in die hande van misdadigers Kan die ANC nie sien wat hulle aan ons land doen met hulle belaglike beleid nie. wanneer gaan hulle wakker word

willem Botha ·

Dit gaan al erger raak todat SA weer regte polisie het wat wet en orde kan handhaaf en die pers regte vryheid het om te kan rapporteer wie en wat die aanvallers is wat verantwoordelik is vir die misdaad.

Stephen Namibia ·

Mense moet nie stilhou as so iets gebeur nie. Ry weg al is dit yster op teer. Die skade aan jou motor is n klein prys om te betaal vir jou lewe.

Neels ·

Stephen is reg. Moet om geen omstandighede stilhou nie. Vertel dit ook aan jou lewensmaat & kinders.

PJC ·

Die polisie en Metro polisie sal sulke tonele met hulle wapens oorgehaal in hul hande moet nader soos wat in Amerika gedoen word anders gaan daar nog baie ongevalle wees. Ek dink nie hulle is altyd paraat genoeg nie.

Obserweer ·

Dit is n brandpunt daar by borcheds quary afrit . Die beaamptes moes hul wapens klaar getrek het en reg vir aksie gewees het. Die verslag was baie duidelik daar was klippe op die N2 gepak , as ons dit hoor dan weet die kriminele is naby .Ons kla al lank oor die metro polisie so treurig is. Hul kom op die toneel aan en word hul geskiet en beroof. Hoe verklaar jy dit??? JP Smith moet beter opleiding vir metro beaamptes reel. Dankbaar dat niemand dood is nie.

Onnie ·

Dis naby Kaapstad Lughawe. Die toeriste gaan nie hiervan hou nie. Stuur die berig oorsee, sodat die mense weet om hier weg te bly. Hier lê en wag hulle vir jou in Donker Afrika.

aj ·

Die Weskaap word DOELBEWUS gedestabiliseer deur die ANC!

Almal ken die redes!

Burgeroorlog!

Skiet eerste of word geskiet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.