Drie leerders van bekende Pta-laerskool oorlede

Ronel en haar ma Mariëtte in die middel saam met Dawie (links) en Christiaan (regs) (Foto: Die Voortrekkers: Kruithoring, Facebook)

“Ons harte is gebreek.”

Só sê Pieter Bredenkamp, skoolhoof van die Laerskool Menlopark in Pretoria, nadat ʼn tragiese ongeluk Sondagmiddag die lewe van drie van die skool se gr. 5-leerders geëis het.

Ronel Engelbrecht, Nina Strydom en Marli van der Vyver was die middag saam met Ronel se ma, Mariëtte Engelbrecht, op pad terug huis toe van ʼn Voortrekkerkamp in die Belfast-omgewing in Mpumalanga. Die voertuig het vermoedelik ʼn meganiese fout ondergaan voor Engelbrecht glo beheer oor die motor verloor het.

Die drie meisies en die ma het in die ongeluk omgekom. Dit is in hierdie stadium nog nie duidelik wat presies fout gegaan het nie.

“Ek het die aand omstreeks 19:00 met skok en hartseer van die ongeluk verneem. Ons harte gaan uit na die verpletterde families en al die maats,” het Bredenkamp gesê. Nog geen inligting oor ʼn roudiens is al bekendgemaak nie.

Nina Strydom (Foto: Die Voortrekkers: Kruithoring, Facebook)

Corné Esterhuizen, Marli en Ronel se klasonderwyser, sal die dogters onthou vir hul vrolikheid, vriendelikheid en entoesiasme.

“Marli was ʼn juweel in al die gr. 5-leerders se harte. Sy was altyd vriendelik en entoesiasties en haar kunssinnigheid het haar emosies na vore gebring. Ronel se karakter in die klas was stil en aangenaam, haar wisselwerking met vriende en vriendinne was wel uitspattig, vrolik en gewoonlik met rekenaarspeletjies as onderwerp,” sê Esterhuizen.

Adele Wilken, Nina se klasonderwyser, het Nina as ’n positiewe en saggeaarde leerder beskryf.

“Sy was altyd reg met ʼn oulike antwoord. Haar mooi glimlag gaan gemis word,” sê Wilken.

Die Voortrekkers het ook hul hartseer uitgespreek oor die afsterwe van dié drie Drawwertjies van die Kruithoring Voortrekkers.

Marli van der Vyver (Foto: Die Voortrekkers: Kruithoring, Facebook)

“Kruithoring Voortrekkers steier onder die werklikheid van die tragedie wat ons kommando, die Menlopark-gemeenskap asook die breër Voortrekker-familie getref het. Die verlies is onberekenbaar,” sê Denina Bernard, kommandoleier van die Kruithoring Voortrekkers.

“Wie sou kon dink dat so ʼn wonderlike naweek só tragies sou eindig? Ons harte is stukkend, maar ons dink met liefde en medelye aan hul gesinne, families en vriende in hierdie bitter tyd van skok en rou, en ons bid dat God hulle sal troos met sy vrede wat alle verstand te bowe gaan.”

Volgens Bernard het die meisies se spanoffisier die middag ʼn entjie voor hul voertuig gery. Sy het in ʼn stadium agtergekom dat sy nie meer die ander voertuig in die truspieëltjie kon sien nie. Sy is geweldig geskok ná die ongeluk.

Bernard vertel Mariëtte was die afgelope tien jaar by Kruithoring Voortrekkers betrokke en was 25 jaar lank ʼn Voortrekker.

Ronel is sedert gr. R ʼn Voortrekker. Ma en dogter word oorleef deur Dawie en Christiaan (gr. 10).

Marli was sedert gr. 1 ʼn Voortrekker en word oorleef deur haar ouers, Jaco en Lucinda, en haar sussie, Karla. Nina is sedert gr. 2 betrokke by die Voortrekkers en word oorleef deur haar ouers, Jaco en Suzanne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Misky ·

My hart gaan uit na almal betrokke. Dit is vreeslik hartseer sjoe

Thea ·

Ek sit met trane vir hierdie mammas wat hulle kindertjies verloor het, asook die pa en seun wat hulle moeder/vrou verloor het. Mag die Here hierdie families vashou en vertroos.

Adrie ·

Dis hartverskeurend – ek is so jammer….. innige simpatie aan die ouers en geliefdes xx

JM ·

‘n Geweldige skok en tragedie. My innige meegevoel met die naasbestaandes.

popsa ·

So baie, baie jammer! Dink aan al die stukkende geliefdes…

Vlooi ·

Wat sê mens. Hartseer vir elkeen wat agterbly. Ons vind ons troos by die voete van Jesus. Mag God elkeen bestaan in hierdie tyd. Dennis ons dink ook aan jou as Kommando leier. Dit is ñ groot skok. Pieter as skoolhoof is dit ñ tragiese en hartseer gebeurtenis. Sterkte in die dae wat voorlê. Onthou die merk wat elk van hierdie kinders nalaat op die wat agter bly….nou groet ons julle…met ñ stukkende Voorie hart….Vaarwel tot ons weer ontmoet.

LANA is ELANè ·

Watter gruwelike manier om hierdie onaangename jaar te moet afsluit. Ek voel bitter jammer vir al die mense wat deur hierdie kindertjies en vrou se voortydige dood geraak is, mag ons Hemelse Vader almal krag gee om hierdeur te kom.

Theo ·

Dawie jammer om te hoor van jou groot verlies.Ek kon my nie glo toe ek die tyding kry nie.Ek glo ons almal by UP is saam met jou en jou seun.Mag die Here julle deur die tyd dra en net so die ander ouers.

Casper ·

Ja die ou lewe is so kort.Hoeveel onmin is daar in families wat so maklik opgelos kan word deur vergewinsgesindheid.Mag hierdie 3 en die mamma sag en knus rus in die arms van ONS HEMELSE VADER wat altyd getrou omsien na sy kinders.

Jakes ·

Wat n tragedie. Ons medelye met die families van die kinders. Hoe verwerk n mens so iets?

Tanniepetoors ·

Baie tragies. Innige simpatie en baie sterkte vir al die familie en vriende.

Wat op dees Aarde ·

Gister verby die skool gery en die rye blomme gesien. Nogal gewonder wat gebeur het. Sterkte aan al die families met hierdie tragiese gebeure!

Mariaan ·

Ag nee dis tragies! Ek huil sommer saam…ai die lewe is maar n tawwe plek…net hartseer en geweld om mens…maak mens sommer moedeloos voel vir die toekoms

Karina ·

My innigste simpatie aan almal betrokke. Vir ‘n ouer om ‘n kind te verloor is baie traumaties. Mag God julle dra en versterk tydens die beproewing.

Genis ·

Dis hartverskerend … ai wat n tragdie.. mag God julle vertroos…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.