
Ronel en haar ma Mariëtte in die middel saam met Dawie (links) en Christiaan (regs) (Foto: Die Voortrekkers: Kruithoring, Facebook)
“Ons harte is gebreek.”
Só sê Pieter Bredenkamp, skoolhoof van die Laerskool Menlopark in Pretoria, nadat ʼn tragiese ongeluk Sondagmiddag die lewe van drie van die skool se gr. 5-leerders geëis het.
Ronel Engelbrecht, Nina Strydom en Marli van der Vyver was die middag saam met Ronel se ma, Mariëtte Engelbrecht, op pad terug huis toe van ʼn Voortrekkerkamp in die Belfast-omgewing in Mpumalanga. Die voertuig het vermoedelik ʼn meganiese fout ondergaan voor Engelbrecht glo beheer oor die motor verloor het.
Die drie meisies en die ma het in die ongeluk omgekom. Dit is in hierdie stadium nog nie duidelik wat presies fout gegaan het nie.
“Ek het die aand omstreeks 19:00 met skok en hartseer van die ongeluk verneem. Ons harte gaan uit na die verpletterde families en al die maats,” het Bredenkamp gesê. Nog geen inligting oor ʼn roudiens is al bekendgemaak nie.
Corné Esterhuizen, Marli en Ronel se klasonderwyser, sal die dogters onthou vir hul vrolikheid, vriendelikheid en entoesiasme.
“Marli was ʼn juweel in al die gr. 5-leerders se harte. Sy was altyd vriendelik en entoesiasties en haar kunssinnigheid het haar emosies na vore gebring. Ronel se karakter in die klas was stil en aangenaam, haar wisselwerking met vriende en vriendinne was wel uitspattig, vrolik en gewoonlik met rekenaarspeletjies as onderwerp,” sê Esterhuizen.
Adele Wilken, Nina se klasonderwyser, het Nina as ’n positiewe en saggeaarde leerder beskryf.
“Sy was altyd reg met ʼn oulike antwoord. Haar mooi glimlag gaan gemis word,” sê Wilken.
Die Voortrekkers het ook hul hartseer uitgespreek oor die afsterwe van dié drie Drawwertjies van die Kruithoring Voortrekkers.
“Kruithoring Voortrekkers steier onder die werklikheid van die tragedie wat ons kommando, die Menlopark-gemeenskap asook die breër Voortrekker-familie getref het. Die verlies is onberekenbaar,” sê Denina Bernard, kommandoleier van die Kruithoring Voortrekkers.
“Wie sou kon dink dat so ʼn wonderlike naweek só tragies sou eindig? Ons harte is stukkend, maar ons dink met liefde en medelye aan hul gesinne, families en vriende in hierdie bitter tyd van skok en rou, en ons bid dat God hulle sal troos met sy vrede wat alle verstand te bowe gaan.”
Volgens Bernard het die meisies se spanoffisier die middag ʼn entjie voor hul voertuig gery. Sy het in ʼn stadium agtergekom dat sy nie meer die ander voertuig in die truspieëltjie kon sien nie. Sy is geweldig geskok ná die ongeluk.
Bernard vertel Mariëtte was die afgelope tien jaar by Kruithoring Voortrekkers betrokke en was 25 jaar lank ʼn Voortrekker.
Ronel is sedert gr. R ʼn Voortrekker. Ma en dogter word oorleef deur Dawie en Christiaan (gr. 10).
Marli was sedert gr. 1 ʼn Voortrekker en word oorleef deur haar ouers, Jaco en Lucinda, en haar sussie, Karla. Nina is sedert gr. 2 betrokke by die Voortrekkers en word oorleef deur haar ouers, Jaco en Suzanne.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
19 Kommentare
My hart gaan uit na almal betrokke. Dit is vreeslik hartseer sjoe
Ek sit met trane vir hierdie mammas wat hulle kindertjies verloor het, asook die pa en seun wat hulle moeder/vrou verloor het. Mag die Here hierdie families vashou en vertroos.
Hartseer.
Dis hartverskeurend – ek is so jammer….. innige simpatie aan die ouers en geliefdes xx
‘n Geweldige skok en tragedie. My innige meegevoel met die naasbestaandes.