Drie leerders vas ná skietvoorval by skool

Foto: SAPD/Facebook

Drie leerders van ʼn skool in Lenasia, suid van Johannesburg, is in hegtenis geneem ná ʼn skietvoorval Dinsdagoggend buite dié skool.

Drie seuns, tussen 14 en 17 jaar oud, is in hegtenis geneem ná die skietvoorval kort ná 07:00 buite die MH Joosub Secondary School, het kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Daar is op ʼn 7.65 mm-pistool en ses koeëls by een van die verdagtes se huise beslag gelê. Sake van poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen word ondersoek.”

Twee leerders, onderskeidelik 19 en 18 jaar oud, is tydens die voorval gewond. Die 19-jarige is in sy regteronderbeen geskiet terwyl die ander slagoffer ʼn skaafwond opgedoen het.

“Dit is nog nie bekend wat tot die voorval gelei het nie, maar daar word vermoed dat een van die verdagtes met die vuurwapen gespeel het toe ʼn skoot afgegaan het. Die polisie het inligting opgevolg en agtergekom die vuurwapen was in die besit van die drie verdagtes voor die skoot afgegaan het.”

Een van die verdagtes het die toneel met die vuurwapen verlaat en is deur die polisie agtervolg na sy ouerhuis waar daar op die vuurwapen beslag gelê is. Volgens Dlamini behoort die vuurwapen glo aan die seun se pa.

Steve Mabona, woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, het gesê die twee slagoffers is albei in matriek. Hulle is ná afloop van die voorval onderskeidelik na die Lenmed- en Lenasia-kliniek geneem vir mediese behandeling.

“Ons verwelkom die inhegtenisneming van die verdagtes. Dit is ʼn teken van samewerking tussen die departement en polisie,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

Berading word intussen aan leerders by die skool verskaf. Volgens Mabona sal daar met dissiplinêre stappe begin word teen die leerders wat in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Patriot ·

Kriminele en gansters op skool. Skaf verpligte onderwys af sodat die wat regtig wil skoolgaan dit in veiligheid kan doen

Sarel ·

Slagoffers? Is tussen 18 – 19 jaar oud en in Matriek nie 14- 16 nie. Kon moontlik nog ‘n Boelie geval wees en iemand se desperade optrede.

leser ·

“berading word veskaf”
waarom word daar ook nie berading verskaf aaan plaas aanvalle se gesinslede nie, is hulle nie ook sielkundig seergemaak nie ???

Abe ·

Zaks,
Die ouderdomme lyk vir my redelik vir leerders aan n sekondere skool in SA.

Ore ·

Een ding is verseker,SA se opleiding en ontwikkeling van kriminele is uiters suksesvol. Een van die dae gaan ons seker lees “6 jarige leeder moor mede leerder”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.