Drie lewenslange vonnisse vir reeksmisdadiger

hof-hamer

Argieffoto

’n Twee-en-dertigjarige man van Brits, Noordwes, is Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklagte wat wissel van verkragting, seksuele aanranding, ontvoering tot die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Ephraim Mokobane is drie lewenslange vonnisse opgelê op drie aanklagte van verkragting, asook 30 jaar vir nog drie verkragtingsaanklagte, 18 jaar vir nege aanklagte van ontvoering, 15 jaar vir gewapende roof, 30 jaar vir twee aanklagte van roof met die doel om ernstig te beseer, vyf jaar vir die rig van ’n vuurwapen, vyf jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en twee jaar omdat hy ’n minderjarige gedwing het om ʼn seksuele daad te aanskou.

Mokobane is verder nog ’n jaar gevonnis vir die oortreding van die Wet op Seksuele Oortredings en ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Volgens lt.kol. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, is Mokobane op 15 Augustus 2016 in hegtenis geneem vir die reeks misdade wat tussen 2013 en 2014 by Skierlik, Centreville and Blok F, alles in die omgewing van Letlhabile informele nedersetting naby Brits, Noordwes, gepleeg is.

Makau sê Mokobane het sy slagoffers in die bosse ingelok, waarna hy sy slagoffer met ’n vuurwapen en mes sou dreig voordat hy hulle verkrag het. Sy slagoffers was tussen 17 en 40 jaar oud.

Mokobane kon deur middel van DNS met die onderskeie sake verbind word.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom en die ondersoekbeampte in die saak geloof vir die goeie ondersoekwerk wat tot die skuldigbevinding en vonnis gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christa ·

die hof skilder die straf rooskleurig maar gaan die man regtig sit???? hy sit ;n maand dan is hy weer op straat.

Michael ·

Jy is reg Christa. Maar wys ons hoe hy lyk dat ons hom na n maand kan uitken .

Helen ·

‘n Monster wat absoluut nooit weer in die gemeenskap vrygelaat moet word nie want kom hy uit gaan hy net weer aan waar hy gestop was. Ek wens ons regstelsel kan by oorsese lande leer hoe om die regte vonnis op te lê en daarby hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.