Drie Limpopo-voortvlugtiges aangekeer

John Fine (links bo), Clifford Matonhori (regs bo), Figos Madisha (links onder),Dennis Hove (regs onder) (Foto: Verskaf)

Drie van die vier “gevaarlike misdadigers” wat Woensdag uit ʼn polisievoertuig in Limpopo ontsnap het, is aangekeer.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê twee vragmotorkapings op agtereenvolgende dae het tot die dramatiese herinhegtenisneming van die voortvlugtiges gelei. Een van die kapings het Donderdagaand op die N1 plaasgevind in die omgewing waar die misdadigers gevlug het. Nog ʼn kaping het Vrydag by die Nylplaza-tolhek plaasgevind.

“Vier verdagtes, wat pas by die beskrywing van die persone wat op die R101 suid van Polokwane uit die polisievoertuig ontsnap het, het glo ʼn vragmotor gekaap en dit later verlate gelaat by Ysterberg op die N1,” het Mojapelo gesê.

“Dieselfde verdagtes het glo nóg ʼn vragmotor die volgende dag by die Nylplaza-tolhek gekaap en dit in die rigting van Modimolle bestuur, met die slagoffers nog binne die vragmotor. Die vragmotor het een van die versperrings by Kranskop-tolhek getref en die verdagtes het uit die vragmotor gespring en in die bosse in gevlug.”

ʼn Soektog deur beamptes van Limpopo-hoofwegpatrollie, die SAPD-lugvleuel, verskeie SAPD-eenhede, en beamptes van  nabygeleë stasies, tesame met spoorsnyers van die Heritage Protection Group (HPG), Private Pilot en lede van die gemeenskap, het daartoe gelei dat die voortvlugtiges aangekeer kon word.

“Een van die voortvlugtiges het op die polisie geskiet toe hy opgemerk is. Die polisie het teruggeskiet en hy is later in ʼn boom gevind. Hy was gewond. Hy is onmiddellik in hegtenis geneem.”

Die twee ander voortvlugtiges is ook in die omgewing aangekeer.

(Foto: SAPD Limpopo)

“Die soektog het voortgeduur en ʼn polisiewapen, wat tydens die ontsnapping gesteel is, is in bosse gevind.”

Die voortvlugtiges wat weer in hegtenis geneem is, is Figos Madisha, Clifford Mutonhori en John Fine. Dennis Hove is nog steeds voortvlugtig en die soektog duur voort.

Die vier verdagtes is vroeër reeds skuldig bevind op aanklagte wat verband hou met verskeie sake van gewapende roof en die besit van onwettige vuurwapens. Die misdade is gedurende April 2019 op die N1 in die omgewing van Bela-Bela (Warmbad), Modimolle (Nylstroom), Mookgophong (Naboomspruit) en Mokopane (Potgietersrus) gepleeg waar motoriste geteiken is.

“Die verdagtes sou Vrydag in die Mokopane-streekhof gevonnis word toe hulle uit die polisievoertuig ontsnap het. Hulle is van Polokwane- korrektiewe sentrum vervoer.”

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het alle rolspelers bedank en geloof vir hul betrokkenheid om die misdadigers weer aan te keer. Hy het lede van die gemeenskap ook bedank vir hul volgehoue ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

Weer moet ons vir Heritage protection service dankie se vir die opsporing en oorgee van geweldadige kriminele aan die polisie,hopenlik kan die polisie hulle hierdie keer veilig bewaak.

Ian

Um hoe het hulle ontsnap? Ek hoor nie van nalatigheid en woorde soos geskors of ontslaan of gefire nie.

anniekiewiet

Ons waardeer die betrokke beamptes se goeie werk.