Drie lyfwagte vas oor onwettige wapens

Argieffoto: SAPD, Facebook

Die Valke in KwaZulu-Natal het drie lyfwagte in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens.

Vuyo Mhaga, polisieminister Fikile Mbalula se woordvoerder, het Woensdag gesê die drie lyfwagte, onderskeidelik 29, 39 en 40 jaar oud, is lyfwagte vir Sphesihle Basil Zulu, die burgemeester vir die Mandeni-munisipaliteit in die iLembe-streek van KwaZulu-Natal.

“Die drie lyfwagte is toevallig in diens van dieselfde veiligheidsmaatskappy as die twee lyfwagte van Bheki Ntuli, streeksekretaris van Ethekwini, van wie ʼn video geneem is waar hulle vuurwapens rondswaai,” het Mhaga gesê.

Die Valke het op vier pistole, ʼn vuurwapen en ammunisie beslag gelê. Die vuurwapens sal vir ballistiese toeste gestuur word om seker te maak of dit met enige misdrywe in die land verbind kan word.

Mbalula het die Valke vir die inhegtenisnemings geloof.

“Ek het met Psira, die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf, in verbinding getree aangesien ons nie veiligheidsmaatskappye kan hê wat mense in diens stel wat dink hulle is die wet nie. Ek soek antwoorde van Psira oor watter stappe hulle gaan volg teen die betrokke veiligheidsmaatskappy,” het Mbalula gesê.

Die drie verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Durban-landdroshof verskyn.

Intussen is die twee mans wat in die opspraakwekkende video sigbaar is, geskors nadat die video vroeër in September aan die lig gekom het. Die mans hanteer vuurwapens, waaronder ʼn AK47-aanvalsgeweer, en maak dreigemente.

Mhaga het aan Maroela Media gesê die twee mans is nog nie in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek oor die voorval duur voort.

‘n Skermgreep uit die video wat aan die lig gekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

dr Sakkie van der Merwe ·

Geluk aan die Valke vir die optrede. Begin nou ook die Guptas en Zuma aankla vir hul wandade.

Pieter ·

Die Valke het op vier pistole, ʼn vuurwapen en ammunisie beslag gelê. Wat n swak stelling, pistole is vuurwapens.

Boet Fasie ·

Veiligheidsmaatskappy wat se wagte gewapen is met onwettige vuurwapens, hoekom word die maatskappy nie gesluit nie. Hoeveel maarskappy is daar nog met onwettige vuurwapens en moontlik nog onwettige wagte wat nie geregistreer is nie. Landburgers moes onwettige vuurwapens gaan inhandig by polisie en nou is daardie vuurwapens in onwettige persone se besit

Afrikaanse Knaap ·

Boet is heeltemal reg. Hoekom kan hierdie maatskappye nog oop wees?
Hoekom hoor ons nie oor wat met die bron van hierdie onwettige wapens gebeur het nie? (Tien teen een SAPS)
As Oscar onbevoeg verklaar is nadat hy daai vuurwapen onwettig in die restaurant af gevuur het, soos wat die vuurwapen wet bepaal hy moes wees, was hy vandag nog ‘n atleet en ons trots, en Reeva nog teenwoordig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.