Drie lyke by uitgebrande voertuig gevind

Foto: SAPD

Die polisie in Limpopo het ʼn reusesoektog na verdagtes van stapel gestuur nadat die liggame van drie mans by ʼn uitgebrande voertuig buite Groblersdal gevind is.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het gesê die liggame is Sondag in Naganeng in die Dennilton-omgewing gevind nadat die polisie en nooddienste deur ʼn verbyganger na die toneel ontbied is.

“Met ons aankoms is die liggame van drie mans naby ʼn uitgebrande voertuig gevind. Die liggame was onherkenbaar verkool.”

Volgens Mojapelo is die oorledenes vermoedelik erg aangerand voor hulle aan die brand gesteek is aangesien talle klippe op die toneel gevind is.

Die oorledenes is intussen geïdentifiseer as Owen Ncube (31), Salos Sithole (23) en Lovemore Basera (20).

Die polisie ondersoek drie sake van moord. “Die motief vir die wrede moorde word steeds ondersoek.” Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die mans vermoor is nadat gemeenskapslede reg in eie hande geneem het.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op beamptes gedoen om die moordenaars vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Arnold ·

Baie wreed en mobjustice is nie ‘n goeie ding nie want gemeenskappe maak soms die verkeerde mense dood.

Scalla ·

Was die drie nie dalk besig met n skelmstreek en toe op heterdaad betrap nie Arnold?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.