Drie mans by treinspoor geskiet

Reddingswerkers op die toneel. Foto: Netcare 911

Die Greenwoodpark-polisie in Durban-Noord ondersoek ʼn saak van moord en twee van poging tot moord nadat drie mans Sondagmiddag in die omgewing geskiet is.

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê drie mans is Sondag omstreeks 16:40 deur onbekende aanvallers by ʼn perseel in North Coastweg in Brairdene geskiet.

Die mans het na bewering langs ʼn treinspoor geloop wat parallel is met Chris Haniweg (North Coastweg) toe hulle aangeval is.

“ʼn 25-jarige man is noodlottig gewond en twee het beserings opgedoen. Die aanvallers het gevlug en is steeds soek. Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en word ondersoek,” het Mbhele gesê.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, is die 25-jarige man op die toneel dood verklaar. Die ander twee slagoffers, tussen 20 en 30 jaar oud, is op die toneel deur Netcare 911 en Crisis Medical behandel voor hulle na ʼn hospitaal geneem is vir mediese behandeling.

“Die Ethekwini-brand-en-reddingsdienste moes bystaan om die slagoffers, wat op ʼn heuwel by die treinspoor aangetref is, veilig met ʼn toustelsel onder na die padoppervlak te neem,” het Herbst gesê.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê die mans se toestand was kritiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.