Drie mans kry 18 keer lewenslank vir verkragtings

hof-hamer

Argieffoto

Die hooggeregshof in Madadeni in KwaZulu-Natal het drie beskuldigdes altesaam 18 keer lewenslange tronkstraf plus 45 jaar opgelê vir verkragting.

Die drie verkragters het in Februarie 2017 ingebreek by die 17-jarige slagoffer se huis in Fairbreeze, suid van Newcastle, waar sy en haar negejarige broer aan die slaap was, sê kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder.

“Sy is meermale [deur al drie die mans] verkrag en daarna met messe gedreig terwyl die drie misdadigers haar en haar broer van huishoudelike items beroof het,” sê Mbele. “ʼn Klag van verkragting is by die polisiestasie op Dannhauser aanhangig gemaak en aan Newcastle se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe oorgedra.”

Toe die tiener se ma van die voorval hoor, moes sy haar werk in Johannesburg los om huis toe te kom. Haar kinders het ná die wrede aanval by bure oorgebly, sê Mbele.

Omstreeks einde Maart verlede jaar, terwyl die ma in die huis geslaap het waarin die verkragting gebeur het, het een van haar dogter se geweldenaars, gewapen met ’n mes, by die huis ingebreek.

“Hy het aan die ma gesê hy het teruggekeer om haar dogter dood te maak omdat sy ʼn saak teen hulle gemaak het,” vertel Mbele. “Toe hy besef dat die dogter nie tuis was nie, het hy die ma herhaaldelik verkrag.”

Weer is ʼn klagte by die Dannhauser-polisiestasie aanhangig gemaak. Dié keer het Newcastle se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe gou gespring en die drie verdagtes binne drie dae aangekeer.

Mbele sê albei slagoffers het die mans tydens ʼn uitkenningsparade geïdentifiseer. DNS-toeste het hulle ook met die misdaad verbind. Hul borgtogaansoek is geweier.

Siboniso Magnificent Malevu (29), Vusumuzi Sibusiso Zungu (29) en Thokozani Andries Khumalo (30) is elkeen vyf keer lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die dogter se bendeverkragting en 15 jaar elk vir huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Khumalo het drie keer lewenslange tronkstraf vir die ma se verkragting gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kobie Welgemoed ·

Jammer dat dit ‘n 2de verkragting gevat het om die skurke te vang. Nou moet ons belasting v hulle sorg. Gooi hulle in ‘n leeu hok. So gaan misdaad vinnig stop.

Uiltjie ·

Die vuilgoed! Die doodstraf hoef nie terug te kom nie, maak net die tronke meer ondraaglik sodat niemand daar wil wees nie. Daai ma, dogter en seun sit nou met lewenslange letsels terwyl daai skermunkels spog oor hul dade by die ander gevangenes. Rehabilitasie werk nie.

Willie ·

Uiltjie, ons was vir baie lank by die gevangenis betrokke met ‘n bediening. En jy kan vir seker weet, daardie plek is ‘n ongelooflike nagmerrie! Ek sê ook, sluit hulle eerder vir ewig toe, want dis ‘n lewenslange straf! Dis definitief nie ‘n hotel nie.

Hannetjie ·

Dis so belaglik..18 keer lewenslange vonnis plus 45 jaar.Hul moet moet net dat lewenslank..lewenslank
wees.

Anoniem ·

Dankie GEEN GENADE ! Wat Julle gesaai het sal Julle maai, maar die ergste kom nog as Julle aan GOD moet verantwoording doen ! Dankie aan die Howe wat BAIE FERM is !

IK ·

En die regter het gesê . . . ?
Tronkstraf ‘vir ewig’ sal beter wees. Soos Uiltjie sê behoort die tronk hel op aarde te wees. Sny ook af DIT wat pla!!

Johanna Botha ·

Die regter is en bly reg met haar woorde ……wat n vieslike daad !

Rudi Neethling ·

In Engels is dit GANG RAPE. In Afrikaans BENDE verkragting, nie “Groepsverkragting” nie

Anair ·

Ek verwag van maroelanuus om die foto wat hulle by verkragtingsberigte gebruik af te haal off met iets anders vorendag te kom. die foto is aanstootlik en gee n verkeerde beeld.

Tania Heyns ·

Dagsê Anair

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning, die foto is reeds verwyder en gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Andre ·

18 keer lewenslank vir verkragting? Die moordenaar van die man in Hartbeespoort wat in ‘n groep in sy huis ingebreek en hom geskiet het, het laasweek 15 jaar gekry … na 5 jaar is hy weer op straat. Verstaan nie hoe dit rym nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.