Drie meisies glo deur familielid, vriend ontvoer

Argieffoto

Drie minderjarige meisies is Maandagmiddag met hul familie herenig nadat hulle vroeër die oggend ontvoer is.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê die kinders is omstreeks 06:45 in Madadeni in KwaZulu-Natal ontvoer.

Dit het intussen aan die lig gekom dat ʼn familielid en nabye familievriend glo onder die vier verdagtes is wat sedertdien in hegtenis geneem is in verband met die voorval.

Kapt. Nagesh Moothilal, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê drie volwassenes en ses kinders het in ʼn motor gery toe mans langs die pad vir die bestuurder gewaai en probeer beduie het daar skort iets met een van die bande.

Die bestuurder het naby die Qaphelani-skool stilgehou om die bande na te gaan toe die verdagtes hom met vuurwapens gedreig het.

Moothilal het gesê die drie volwassenes en drie van die kinders het weggehardloop. Die kapers het toe met die drie kinders wat in die silwerkleurige BMW agtergebly het, weggejaag.

Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Newcastle, die honde-eenheid en speurders van Madadeni kon gistermiddag daarin slaag om die drie meisies, onderskeidelik ses, nege en 11 jaar, uit ʼn huis in Iverness in Osizweni te red waar hulle deur die verdagtes aangehou is.

“Vyf verdagtes, tussen 20 en 70 jaar, is in hegtenis geneem nadat ʼn ongelisensieerde vuurwapen in hul besit gevind is. Die gekaapte voertuig is ook by Osizweni aangetref.”

Die polisie vermoed in dié stadium dat die familielid die een was wat die kaping en die ontvoering beplan het.

Die verdagtes het ʼn losprys van ʼn onbekende bedrag geëis in ruil vir die veilige terugbesorging van die kinders.

Hulle sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van kaping, ontvoering, mensehandel en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Sjoe, 9 mense in ‘n motor!!

En toe hardloop die 3 grootmense weg en los die 3 van die kinders in die motor?

Waar is die grootmense se sin vir verantwoordelikheid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.