Drie met wapens by lodge in KZN betrap

(Foto: SAPD KwaZulu-Natal)

Drie verdagtes is Saterdagmiddag by ʼn lodge in Sydenham, KwaZulu-Natal in hegtenis geneem danksy ʼn wenk van die gemeenskap.

“Die polisie het gereageer op inligting van ʼn vermoedelik gekaapte voertuig wat by die lodge opgemerk is,” sê kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die polisie. “Die polisie het twee voertuie aangetref. Een van die voertuie is twee weke gelede in Sydenham gekaap en die ander is onlangs in Newlands gekaap.”

Drie mans, onderskeidelik 19, 23 en 56 jaar oud, is in een kamer aangetref met vier vuurwapens, nege magasyne, agt koeëlvaste baadjies en ʼn leë vuurwapensak.

“Die verdagtes, wat aanvoer hulle is oorspronklik van Delft in Kaapstad, is in hegtenis geneem. Die ondersoek na hulle moontlike missie duur voort.”

Netshiunda sê aangesien Sydenham egter berug is vir sy dwelmgebied-oorloë, glo die polisie dat die verdagtes, wat van 6 Desember tot 11 Desember by die lodge ingeboek was, moontlik in die gebied was om ʼn sluipmoord uit te voer.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

Volgens Netshiunda is die inhegtenisnemings ʼn bewys van die noodsaaklikheid van ʼn goeie verhouding tussen die gemeenskap en die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.