Drie Mpumalanga-hoës in hof oor korrupsie

(Foto: Brenda Masilela/ANA)

Drie hooggeplaaste senior staatsamptenare van Mpumalanga sal Donderdag hul aansoeke om borgtog voortsit nadat hulle op aanklag van korrupsie in hegtenis geneem is.

Kebone Masange (51), hoof van menslike nedersettings in Mpumalanga, lt.kol. Ayanda Plaatje (45), ʼn eenheidsbevelvoerder vir ernstige korrupsieondersoeke by die Valke, asook Matric Luphondo (52), Mpumalanga se waarnemende direkteur van openbare vervolging, het Woensdag in die Pretoriase landdroshof in verband met die aanklagte teen hulle verskyn.

Die hof het die staat se aansoek vir ʼn sewe dae lange uitstel van die hand gewys, wat beteken die saak word vandag voortgesit.

Die drie het glo saamgespan om ʼn aanklaer om te koop om ʼn klag teen Masange – dit hou verband met bedrog en ʼn oortreding van die Immigrasiewet – te laat terugtrek.

Maroela Media het vroeër berig een van die beskuldigdes het glo ʼn 18 jaar oue bottel Skotse whisky hiervoor ontvang, terwyl ʼn ander beskuldigde sowat R28 000 van ʼn algehele bedrag van R100 000 ontvang het om die saak te laat verdwyn.

Die aanklaer wat die beskuldigdes glo wou probeer omkoop, het die voorval by sy seniors asook die polisie aangemeld, het Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê.

Die drie is daarna in hegtenis geneem.

“Hoewel die NVG teleurgesteld is dat enige van sy amptenare by sulke bewerings betrek word, is ons trots op die mense wat vasstaan om ons nuwe visie te verdedig,” sê Ngwema. Dié nuwe visie is volgens Ngwema gegrond op etiese gedrag, integriteit en geloofwaardigheid.

Hy sê dit is bemoedigend dat daar aanklaers en ondersoekers is wat spoedig en met eerlikheid optree om die vervolgingsgesag se waardes en die wet te verdedig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Dit wys net weereens hoe diep die verrotting lê, alles te danke aan onbevoegde onnosel kader aanstellings.

AJ ·

Regstelling: Dié Valke bevelvoerder is van Gauteng en nie Mpumalanga. Die hoofopskrif is dus ook verkeerd

Porseleintjie ·

Pleks daar na n ” inenting” teen korrupsie gesoek word. SA is deutrek van die gemors.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.