Drie multi-miljoenêrs binne vier weke

lotto 2Drie mense het die lotery die afgelope vier weke in Suid-Afrika gewen.

“Drie persone is die afgelope vier weke by die lys van multi-miljoenêrs gevoeg,” het Dudu Ndendwa, woordvoerder van die nasionale lotery-operateur Gidani, Donderdag in ʼn verklaring gesê.

ʼn Man van Limpopo, glo in sy 50’s, het verlede Vrydag die Powerball Jackpot van R24 miljoen gewen. Hy het gesê hy het lukraak nommers gekies en wil ʼn bril, motor en huis met die geld koop.

ʼn 40-jarige man van Gauteng wat sy eie vervoermaatskappy besit, het Saterdag R15 miljoen in die lotery gewen. Hy het in die Sondag-koerant ontdek hy is die wenner. “Ek was lam,” het hy gesê. “Ek was terselfdertyd opgewonde, deurmekaar en angsbevange.” Hy het glo ʼn paar keer die nommers op die kaartjie nagegaan voordat hy vir sy gesin gesê het hy het gewen. “Ek het my kaartjie veilig in my beursie gehou en die heeltyd by my gehou.” Hy wil die geld glo in sy maatskappy belê en sy kinders in die beste skole plaas. Hy beplan ook om van die geld vir sy familielede te gee en die res te belê.

ʼn 31-jarige man van Gauteng het op 30 Augustus ook R15 miljoen in die lotery gewen. Hy wil glo ʼn nuwe huis koop en gaan van die geld op sy gesin spandeer en die res belê. Hy wil glo net ʼn normale lewe lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.