Drie ʼn dekade later vas oor moord

Argieffoto

Drie verdagtes wat vandeesweek in hegtenis geneem is in verband met beweerde bedrog in die KwaZulu-Natalse departement van maatskaplike ontwikkeling, was na bewering ook betrokke by die moord op ʼn departementele bestuurder wat in 2008 koelbloedig in sy kantoor doodgeskiet is.

Brig. Hangwani Mulauzdi, woordvoerder van die Valke, het gesê sewe verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem ná ʼn intensiewe ondersoek oor beweerde bedrog by die departement.

“In Junie 2008 is Thembinkosi Dlamini (37), die bestuurder van die welsynskantoor in Ngwelezane, opdrag gegee om ʼn interne ondersoek te doen na beweerde korrupsie en bedrog in die departement. Kort hierna het ʼn groep mans een dag in sy kantoor ingestorm en hom koelbloedig doodgeskiet,” vertel Mulaudzi.

“Die Durbanse eenheid vir georganiseerde misdaad het later ses verdagtes in hegtenis geneem. Hulle is skuldig bevind aan die moord op Dlamini en is in 2013 in die hooggeregshof in Mtunzini tot lewenslange tronkstraf gevonnis.”

Mulaudzi sê ná die vonnis het die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie begin om die bewerings van korrupsie in die departement te ondersoek. Dit het daartoe gelei dat vyf beamptes van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), ʼn dokter en ʼn medewerker Dinsdag in hegtenis geneem is.

Gabriel Ndlovu (54), Mfaniseni Ngcobo (40), Ntobeko Mlaba (51), Balungile Mkhize-Mdletshe (37), Jennifer Gumede (47), Thembelani Nyawose (40) en Beatrice Shandu (47) het Woensdag vlugtig in die Empangeni-landdroshof verskyn.

“Daar word beweer dat dié sewe beskuldigdes saamgesweer het om Sassa tussen 2005 en 2008 uit ongeveer R25 miljoen te bedrieg deur bedrieglike maatskaplike toelae op te stel. Drie van die sewe kan na bewering ook verbind word met die moord op Dlamini,” het Mulaudzi gesê.

Die sewe sal op 26 Junie weer in die hof verskyn en bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

D V ·

Dit gaan nog lank deur voor korrupie uitgeroei sal wees.
Mense het gesien hulle kan daarmee wegkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.