Drie nou van moord aangekla ná wrede plaasaanval

Piet en Rikkie. Foto: Facebook

Die drie mans wat in hegtenis geneem is in verband met die wrede aanval op Piet Els (86) en sy vriendin, word nou van moord aangekla nadat Els Dinsdag dood is.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het gesê die beskuldigdes het Woensdag in die Kimberley-landdroshof verskyn waar ʼn klag van moord teen hulle aanhangig gemaak is.

Hulle staan ook tereg op aanklagte van huisbraak, roof met verswarende omstandighede, verkragting en oortreding van die immigrasiewet. Die beskuldigdes mag weens die aanklag van verkragting nie geïdentifiseer word voordat hulle gepleit het nie. Hulle moet weer op 6 Junie in die hof verskyn.

Els is Dinsdag in ʼn hospitaal dood, amper vier maande nadat hy en Rikkie Alsemgeest (68), albei bekende sakelui van Kimberley, die aand van 23 Januarie op Els se plaas sowat 10 km buite Kimberley aangeval is. Vier aanvallers het die paar gedreig en aangerand voordat hulle hul hande en voete vasgebind het. Hulle is vir ure aangerand en gemartel en onder meer met ʼn strykyster gebrand.

Die verdagtes het die kluis met ʼn hoeksnyer oopgesny en met ʼn groot hoeveelheid waardevolle items, ʼn jaggeweer en ʼn wit Mercedes-Benz op die vlug geslaan. Die voertuig is later verlate op die R31 naby Phutanang buite Kimberley opgespoor.

Niel Alsemgeest, Rikkie se seun, het aan Maroela Media gesê sy ma is seksueel aangerand en die klag van verkragting spruit hieruit voort. Sy het toestemming gee dat sy geïdentifiseer mag word.

Die beskuldigdes is verlede maand in die Kimberley-landdroshof borgtog geweier. Hulle is onderskeidelik op 7 Februarie, 31 Januarie en 29 Januarie in hegtenis geneem.

ʼn Vrou is ook op 14 Februarie in hegtenis geneem in verband met die saak nadat van die goedere wat tydens die aanval gesteel is glo in haar besit gevind is. “Die polisie het ʼn muntversameling, juweliersware en motorsleutels wat glo aan die slagoffers behoort in haar besit gevind,” het Kock vroeër gesê. Sy word aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Volgens Kock sal die vrou na verwagting volgende maand saam met die ander drie beskuldigdes in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lizl ·

Die redenasie dat hulle name weerhou word, maak vir my glad nie sin nie. Hoekom word verkragters en moordenaars beskerm ? Hoekom plaas media nie berig en meld die nasionaliteite nie ?

Anoniem ·

Skynbaar word net blankes se details geplaas sodat hulle by hulle huise gedreig en geïntimideer kan word?

Alida ·

Die hele wereld weet wat hul nasionaliteit is. Hoop hulle sit vir ewig!

PJC ·

Dan verwag die liberales nog dat ons moet glo dat plaasaanvalle gewone misdaad is.

Callie ·

En Elmien du Plessis beweer dis net n gewone moord. Sekere mense moet wakker word

Katerina ·

Callie daar is n ou gesegde: “You cannot wake someone who is only pretending to be asleep” Daai tipe mense Wil nie weet nie,wil nie verstaan nie,wil nie sien of hoor wat die ware toedrag van sake is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.