Drie nou vas oor moorde

Argieffoto

‘n Derde man is in hegtenis geneem in verband met die moord op drie mense Sondag in die vroeë oggendure in ʼn rondawel in die Mbongolwane-gebied in KwaZulu-Natal.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het Vrydag gesê die voorval het omstreeks 02:00 plaasgevind terwyl vyf mense in die rondawel geslaap het. “Hulle is deur verdagtes aangeval. Daar is op hulle geskiet en die gebou is aan die brand gesteek,” het hy gesê.

Volgens Zwane is drie mense tussen die ouderdomme van 30 en 50 jaar dood en twee ander ernstig beseer. Een van die twee beseerdes het intussen in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Twee mense wat vermoedelik by die skietery betrokke was, is kort ná die voorval in hegtenis geneem en is in aanhouding.

“Die ondersoekbeampte se volharding om toe te sien dat geregtigheid geskied, het tot die derde verdagte, ʼn 54-jarige man, se inhegtenisneming gelei.”

Die man sal saam met die ander verdagtes in die Eshowe-landdroshof verskyn op vier aanklagte van moord en een van poging tot moord.

Die motief agter die moorde is nog nie bekend gemaak nie.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om kalm te bly en die polisie toe te laat om die saak verder te ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.