Drie nuwe wette om vroue, kinders te beskerm

Argieffoto

Drie wetsontwerpe gemik op die bekamping van geweld teen spesifiek vroue en kinders is in die parlement ingedien.

Volgens pres. Cyril Ramaphosa is die wetsontwerpe ingedien net mooi ʼn jaar nadat hy aktiviste buite die parlement die versekering gegee het hy sal sorg dat die regering dit doen.

Bestudering van die wetsontwerpe dui daarop dat dit verskeie voordele inhou in die stryd teen geweld teen vroue en kinders.

Veranderings aan die Wet op Seksuele Oortredings sluit in dat seksuele teistering voortaan ʼn oortreding is. Die internasionale definisie hiervoor sou die publikasie of aanstuur van seksueel deprimerende grappe of seksueel eksplisiete foto’s en prente insluit.

ʼn Verdere uiters belangrike nuwigheid is die plaas van ʼn verpligting op enigeen wat redelikerwys kon vermoed ʼn misdaad word teen ʼn kind gepleeg, om so ʼn vermoede aan te meld by die owerhede. Versuim om dit te doen, word gekriminaliseer.

Voorts sal seksuele oortreders se name langer as tevore in die nasionale register van seksuele oortreders opgeteken bly, en die register sal vir die algemene publiek toeganklik gemaak word.

Wat voorgestelde veranderings aan die Stafproseswet betref, word minimumvonnisse vir misdade teen vroue en kinders uitgebrei en word staatsaanklaers verplig om borgtog vir beskuldigdes in misdade teen vroue en kinders teen te staan, of spesifieke redes te verskaf as hulle dit nie doen nie.

Die bepalings van die Wet op Gesinsgeweld sal kragtens die voorgestelde wysiging uitgebrei word om alle verhoudings te dek, nie net huwelike nie – ook byvoorbeeld eenmalige amoreuse ontmoetings.

Die voorgestelde veranderings sal dit makliker maak om ʼn beskermingsbevel te verkry, en sulke beskermingsbevele sou trouens aanlyn verkry kon word.

Die wetswysiging sal die redelike vermoede van gesinsgeweld aanmeldbaar maak, en die versuim om dit te doen tot misdaad verklaar.

Al drie wetsontwerpe is na die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie verwys, waar dit waarskynlik vinnig aanvaar sal word sodat Ramaphosa dit met sy handtekening spoedig op die wetboek kan plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Ja wat die wette sal nie toegepas word nie, ant huidiglik beteken die ” knieë buig” vir BLM meer as ‘n lewe.
Dit mask ook die deur oop vir ” wraak” optrede teen onskuldiges.
Solank daar geen respek vir lewe in die land is nie en Regsstelsel nie diecreg van die slagoffer herken nie kan julle maar gaan weet niks gaan werk nie.
Ek sien niks van vonisse wzt nie ” aaneenlopend” uitgedien sal word nie asool niks oor minimum vonnis nie.

tweeling ·

Die regering is op pad om die meeste wette in die wêreld op papier te hê maar dit word nie toegepas nie. Die kriminele skrik nie meer nie want die reg stelsel is ‘n klug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.