Drie ontsnap toe polisie skofte ruil

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Drie mans het vroeër vandeesweek uit polisieaanhouding in Acornhoek in Mpumalanga ontsnap terwyl beamptes besig was om skofte te ruil.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê altesaam vier verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem en was veronderstel om na die aanhoudingselle geneem te word toe die beamptes skofte geruil het.

“In plaas van dat hulle na die aanhoudingselle geneem is, is hulle glo tydelik in ʼn wagkamer geplaas terwyl die skofruiling gedoen is,” sê Mohlala.

“Toe die polisiebeamptes by die vertrek ingaan om die verdagte na die aanhoudingselle te neem, was daar glo net een verdagte oor.”

ʼn Voorlopige ondersoek na die voorval dui daarop dat drie van die verdagtes moontlik deur ʼn klein venstertjie in die wagkamer ontsnap het.

Die ontsnaptes is intussen as Ludwick Molobela (20), Suprise Maluleke (24) en Menley Sithole (24) geïdentifiseer.

Molobela word van koperdiefstal verdink, terwyl Maluleke en Sithole in hegtenis geneem is op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, sê sy is teleurgesteld oor die wyse waarop die verdagtes hul vryheid onwettig verkry het.

Sy het intussen onderneem dat die polisie onverpoos sal werk om die verdagtes weer op te spoor.

Die polisie in Mpumalanga het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om die speurders verbonde aan die Acornhoek-polisiestasie by 082 318 9925 te kontak indien hulle inligting het oor waar die verdagtes hulle bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.