Drie ontsnap uit Malmesbury-tronk

Die Malmesbury- korrektiewe fasiliteit. (Foto: Google)

Drie gevangenes het Woensdagaand daarin geslaag om uit die Malmesbury‑ korrektiewe fasiliteit in die Wes-Kaap te ontsnap en op die vlug te slaan.

Een van die mans is intussen weer deur owerhede vasgetrek, maar die ander twee is nog op vrye voet.

Sechaba Mphahlele, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), sê die drie gevangenes het die aand uit die fasiliteit ontsnap.

Volgens ʼn inwoner van die gebied het ʼn sirene in die dorp afgegaan en hulle is op verskeie WhatsApp-groepe van die ontsnapping in kennis gestel.

Verskeie wetstoepassingsowerhede het ʼn 72‑uur-aktiveringsplan in werking gestel en een van die verdagtes is vasgetrek.

“ʼn Klopjag na die oorblywende ontsnaptes, Alexander Peters en Juneal Jacobs, is steeds aan die gang,” sê Mphahlele.

Peters was in die Malmesbury gevangenis vir aanranding, terwyl Jacobs aan moord skuldig bevind is.

Dit is nog nie duidelik hoe die gevangenis uit die fasiliteit ontsnap het nie.

“Die departement het ʼn ondersoek na die omstandighede van die ontsnapping van stapel gestuur en ʼn voorlopige verslag oor die verloop van gebeure sal verdere optrede teen die skuldiges bepaal,” sê hy.

Die departement het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om die owerhede te kontak indien hulle inligting het wat kan lei tot die herinhegtenisneming van die twee gevangenes.

“Die DKD bly daartoe verbind om die gevangenes op te spoor en veilig aan te hou.”

Inwoners is in 2020 op hol gejaag nadat verskeie verhoorafwagtende gevangenes uit aanhouding in Malmesbury ontsnap het. Ná ʼn grootskaalse soektog is al die ontsnaptes kort daarna weer aangekeer en agter tralies gesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kortbroek en plakkies ·

In die 80’s was ek ‘n proefbewaarder en het my basiese opleiding op Kroonstad gedoen. Iets wat my altyd sal bybly was ons instrukteurs wat ons rondgejaag het op die parade grond as ons gepraat het van iemand wat ontsnap uit ‘n gevangenis. Hulle het altyd gese, “Rower net ‘n “poep” onsnap ‘n mens ontvlug”. Nou ja; wat die regte term is maak seker nie saak nie; maar elke keer as ek dit lees kry ek so lekker laggie hier binne my.

SjN ·

Inside job, die alarm moet seker by die tronk afgegaan het en nie in die dorp nie of word dit deur die inwoners gemonitor?

Moedeloos ·

Die alarm word deur die Gevangenis gedoen maar omdat Malmesbury redelik klein is en daardie geluid oorverdowend is word dit oral gehoor. En veral as dit aanhoudend afgaan soos gisteraand dan weet ons as inwonders daar is ontsnapping gewees. Maar dit bly raaisel hoe de wetter kry hul dit reg om te ontsnap.

Christa ·

Was chaos gisteraand in Malmesbury by die tronk en omgewing. Wanneer die WW2 sirene afgaan, kan jy dit wie weet waar hoor. Gelukkig was daar baie op en wakker groepe om mens te waarsku om liefs binne te bly en die deure gesluit te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.