Drie plaasaanvalle binne 8 uur

WAARSKUWING: ‘n Foto in die berig is grafies en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die toneel waar John Byles op ‘n plaas buite Hartswater in die Noord-Kaap aangeval is. Foto: Verskaf

Drie aanvalle het vanoggend binne ʼn tydperk van agt uur op twee plase en ʼn kleinhoewe in drie verskillende provinsies plaasgevind.

John Byles (81) is vanoggend omstreeks 07:00 buite sy huis op ʼn plaas naby Hartswater in die Noord-Kaap deur twee aanvallers oorval.

Johan Cloete, ʼn vriend van Byles, het aan Maroela Media gesê die aanvallers het Byles aanvanklik met die vuis bygedam voordat hulle ʼn graaf gebruik het om hom aan te rand. Hulle het ook onkruidgif in sy gesig en oë gegooi.

“Hy het onder sy bakkie ingekruip en probeer om sy kop so hoog as moontlik te hou sodat hulle hom nie nog met die graaf oor sy kop kon slaan nie. Dit is regtig ʼn wonderwerk dat hy leef,” het Cloete gesê.

Hy sê Byles is in ʼn kliniek opgeneem waar hy minstens nog tot Vrydag behandel sal word. “Hy het kopbeserings opgedoen en sy oë is heeltemal toegeswel van die aanranding en die gif. Hy het gelukkig nie skedelbreuk opgedoen nie, maar dokters het steke in die wond aan sy kop gesit.”

Volgens Cloete is Byles by sy volle positiewe en kan hy die gebeure duidelik onthou. “Hy is heeltemal wakker en praat met ons. Hy wil nou sommer die boerdery hier vanuit sy hospitaalbed bedryf,” skerts hy.

Hy het gesê die eienaar van die plaas het reeds bevestig dat die veiligheid op die plaas waar Byles alleen woon sedert sy vrou verlede jaar dood is, opgeskerp sal word.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Volgens Kock word ʼn saak van huisbraak ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met meer inligting word versoek om lt.kol. Isaac Sereetsi by 082 454 4212 te bel.

Ure vantevore is ʼn vrou wat alleen op ʼn plaas in die Marble Hall-omgewing in Limpopo woon omstreeks 02:00 deur twee aanvallers in haar huis oorval.

Bertus Homan, veiligheidshoof van AfriForum in Marble Hall, het aan Maroela Media gesê die vrou het wakker geword van ʼn geraas en opgestaan om te gaan ondersoek instel.

“Sy het twee aanvallers by die voordeur gesien; die boonste deel van die voordeur was reeds oopgebreek. Sy het op hulle geskree en omgedraai, terug na haar kamer gehardloop en haar rewolwer gaan haal,” het Homan gesê.

Volgens Homan het die aanvallers egter reeds op die vlug geslaan toe sy op hulle geskree het. Die vrou het daarna twee waarskuwingskote afgevuur.

Homan het gesê die aanvallers se spore is van die teerpad, waar hulle vermoedelik afgelaai is, tot by die huis gevolg en weer die ent terug na die teerpad toe hulle gevlug het.

Hy sê die vermoede bestaan dat die aanvallers inligting ontvang het dat die vrou Dinsdagnag alleen tuis sal wees aangesien sy nie gewoonlik alleen is nie. Maroela Media het by die polisie navraag gedoen en wag op terugvoer.

John Byles nadat hy aangeval is. Foto: Verskaf

In ʼn derde voorval is ʼn vrou en ʼn 16-jarige meisie omstreeks 10:00 op ’n kleinhoewe buite Cullinan in Gauteng aangeval.

Volgens Kerneels Bezuidenhout, ’n familielid, is die tienermeisie en die gesin se huishulp deur twee aanvallers buite die huis oorval waarna hulle vasgebind en geslaan is. Die aanvallers het daarna op die vlug geslaan met selfone en skootrekenaars.

Gladice Bezuidenhout, nog ’n familielid, het gesê die meisie en huishulp was ten tyde van die aanval alleen tuis, aangesien dit eksamentyd is en die meisie by die huis moes voorberei vir haar volgende vraestel.

Volgens Kerneels kon hulle daarin slaag om hulself los te wikkel nadat die aanvallers laat spaander het en het hulle na die meisie se grootouers se huis, ’n paar honderd meter daarvandaan, gehardloop om hulp te ontbied.

Kerneels vertel dat hy ná die aanval vlugtig op die toneel was, maar dat die verdagtes teen daardie tyd skoonveld was. Hy bevestig dat die twee slagoffers nie ernstige beserings opgedoen het nie en vir traumaberading sal gaan.

Volgens Gladice is dit “nou ’n weeklikse ding dat mense in dié gebied helder oordag aangeval word”. Maroela Media wag op kommentaar van die polisie.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê daar het vanjaar reeds 296 aanvalle op plase en kleinhoewes plaasgevind, terwyl 38 mense vanjaar in plaasaanvalle vermoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jerry

Hoeveel plaasaanvalle moet nou nog eers plaasvind voordat Afri-Forum se plaasbeveiligingsplan eendag gaan begin werk!

White Rhino

Stuur aan vir Trump en sisulu

remondo

nee nou verstaan ek nie , kyk hoe lyk die oom geslaan en hulle ondersoek n saak van huisbraak?

Blits

Ondersoek n saak van huisbraak????? Regtig?, Die arme oom word geslaan met n graaf en met GIF gegooi in sy gesig?? As dit ek was wat dit aan n swart man gedoen het is ek dadelik aangekla van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en nog 105 aanklagte wat sommer uit gedink sal word gevolg met n hengse groot betooging teen my en dan op die nuus n uitbasein deur die regering en kie van rassisme. Hoekom is dit dat as plaasaanvalle gedoen word daar baaaaaiiiiieeee selde n klag van moord, poging tot moord en… Lees meer »

Emma

Ja wys vir die wereld hoe dit in die mooi land van ons aangaan. Dit is skrikwekkend