Drie polisielede in hospitaal ná rooftogte

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, sê hy veroordeel ten sterkste die aanval op polisiebeamptes in die noorde van KwaZulu-Natal waarin drie beseer is.

Lede van die eenheid vir sigbare polisiëring het omstreeks 02:00 Maandagoggend op rooftogte by twee vulstasies op Nongoma gereageer toe die rowers hulle voorgelê het, sê kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder. “By hul aankoms op die toneel, is hulle deur ʼn koeëlreën begroet en het hulle teruggeskiet.”

Die verdagtes het op die vlug geslaan, waarna die drie polisiebeamptes wat kritiek gewond is, na ʼn hospitaal vir mediese behandeling gebring is.

Sitole loof die lede wat op aktiewe sakerooftogte gereageer het vir hul dapperheid en verbintenis daartoe om “ons gemeenskappe te suiwer van mense wat geen respek vir menselewens het nie”.

“Ons mense is vreesloos,” sê hy, “en dié voorval getuig daarvan dat ons as die polisie nie van stryk gebring sal word nie. Ons sal volhard in ons pogings om te verseker dat die burgers van ons land veilig is en voel.”

Hy sê die polisiediens sal altyd hul lewe in gevaar stel om hul grondwetlike opdrag uit te voer.

Sitole het ʼn 72-uur-aksieplan in werking gestel om die vermomde aanvallers op te spoor wat in ses weeldemotors van die toneel gevlug het.

Enigeen wat die polisie in hul soektog kan help, word gevra om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LH ·

My hart en gebede gaan uit na die gewonde Lede, mag God Sy hand oor julle hou!

Willie ·

Jy sou nie in die ou dae durf waag om op die SAP te skiet nie…

fraaans ·

Willie ek stem 100% saam met jou, deesdae se probleem is dat as die polisie terug slaan word hulle vervolg, so as ek een was sou ek n ompad na n toneel toe gery het tot die rowers weg is en dan maar net n saak nommer vir die versekering veskaf!!!!!!

Wilma ·

Ons vra dat God asb hierie lede sal gesond maak
Vertrou dat die kriminele tog nog geskiet gaan word. Vuilgoed

H.A. ·

Hulle doen rooftogte in weelde voertuie? M.a.w hulle het geld. Hoekom dan nog roof ook? Wie voer hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.