Drie polisielede, ‘kapers’ en ‘onwettige tandartse’ vas ná polisie-optrede

(Foto: SA Polisie)

Die polisie het drie vermeende vragmotorkapers, drie tandartse wat onwettig gewerk het én drie polisielede die afgelope naweek in ʼn reeks operasies in hegtenis geneem.

Een van die polisielede is ʼn konstabel wat waarskynlik van meineed aangekla gaan word, nadat hy ʼn saak van poging tot moord aanhangig gemaak het. Die konstabel het glo sy been tydens ʼn struweling met ʼn kapingslagoffer beseer. Die polisielid het aanvanklik aangevoer hy is geskiet deur iemand wat hom moontlik wou kaap, het kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê.

Later, by ʼn hospitaal, is hy egter uitgewys as een van die verdagtes wat na bewering ʼn Toyota-minibus in Mamelodi in Pretoria gekaap het. Hy is by die Pholosong-hospitaal in hegtenis geneem, waarheen hy homself vir behandeling geneem het ná die beweerde kaping. Hy was nie aan diens toe die voorval gebeur het nie.

Nóg twee polisielede van Randfontein is vir die diefstal van sement en die aanranding van ʼn veiligheidswag aangekeer. Die twee is na bewering na ʼn perseel – terwyl hulle aan diens was – waar hulle glo ʼn sak sement gesteel het. ʼn Veiligheidswag het hulle by die hek gekonfronteer en is glo aangerand, het Dlamini gesê.

Hulle verskyn na verwagting later vandag in die Randburgse landdroshof.

“Niemand gaan die gereg ontduik nie en diegene wat aan die verkeerde kant is, ook ons eie lede, gaan voor stok gekry word,” het lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, gesê.

Mawela het gesê die polisie het reeds met sy Kersvakansie-operasies begin. “Ons gaan dit moeilik maak vir misdadigers wat dink hulle kan die gemeenskap teister en geld maak daaruit. Die gety is besig om teen hulle te draai en ek gaan elke beskikbare lid, ook reserviste, oor die feestyd ontplooi.”

In nóg ʼn polisiesukses is drie vermeende kapers in Brakpan aangekeer, nadat ʼn vragmotor wat van Kaapstad onderweg was op die N1 naby Diepkloof gekaap is. ʼn Onbekende aantal betrokkenes het ʼn blou lig gebruik om aan die vragmotorbestuurder te wys om stil te hou, het Dlamini gesê.

Die vragmotorbestuurder is geblinddoek en na ʼn pakhuis in Brakpan geneem.

“Danksy die ingryping van ʼn taakspan is die verdagtes in hegtenis geneem voordat voorraad van nagenoeg R300 000 afgelaai kon word. Drie verdagtes is op die toneel aangekeer. Twee ander het ontsnap. Die polisie is steeds op hul spoor.”

In ʼn onverwante voorval is drie mense in samewerking met die departement van gesondheid in hegtenis geneem aangesien hulle glo onwettige tandartspraktyke bedryf het. Die drie is buitelandse burgers.

Die polisie het onder meer beslag gelê op vervalste sertifikate en toerusting.

“Die eienaar van die praktyk, vermoedelik ook ʼn buitelander, was nie op die toneel nie en die polisie soek nog na hom.”

Dlamini het gesê die drie sal later vandag op onder meer aanklagte van bedrog in die Springs-landdroshof verskyn.

Die polisie het tydens deursoekingsoperasies die afgelope naweek ook beslag gelê op 14 vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Christel Cornelissen ·

Dagsê Oeps
Dankie vir jou boodskap en jammer vir die oorsig. Ons het die fout reggestel.
Groetnis
Christel
nms Maroela Media

Theresa ·

Crazy. Wettelose land vol mense wat lieg en bedrieg. Die SAP lede is nie eers trots op hul werk nie. Smeer die SAP eerder deur die modder.

Melanie ·

Dankie vir die eerlike polisiemanne en ander wat ons land se burgers veilig probeer hou.Misdaad neem toe en nie af gaan lank vat om orde teskep in SA.

Hannetjie ·

Goeie werk.Trots op die polisiemanne en vroue wat hul werk ernstig opneem

sweis ·

Die is weereens n voorbeeld hoekom misdaad buite beheer is ,omrede die misdadigers blou uniforms dra en dan boonop deur die staat betaal word om wetstoepassing te doen

Heksie ·

Wel gedaan, dit is die tipe polisiewerk waaraan ek gewoond was …

Wielspore ·

Goeie werk, dit skep hoop vir ons land, daar is ook humor in die berig, tov die tandartse. ‘n Besoek aan ‘n tandarts is opig self pynlik, wat nog om een te besoek wat nie weet wat hy doen, pynlik +++

Frikkie Geld en huis ·

Ek gaan ‘n klompie jare gelede vir kwotasiedoeleindes na Mamelodi. Voor ‘n huis is ‘n netjiese bord opgesit wat lees : PANELBEATER AND DENTIST

Lou ·

Die onwettige Tandartse gee nogal nuwe betekenis aan die ou spreekwoord “Hy lieg soos ‘n tandetrekker”

Adriaan ·

Hoekom van Randfontein na Randburg geneem. Is die Randfontein howe toe of oorvol?

Sp ·

Goue sterstatus vd polisie om deur sulke swak rekrute te werf, terwyl wit kinders se kanse om in te kom baie skaars is.
Die polisie is nog steeds baie erg op regstellende aksie.

JohanR ·

Daar was eens op ‘n keer ‘n grap strookie vernoem “Spy versus Spy”. Hier in SA is dit Police versus Corrupt Police”!

Michelle ·

Dankie vir die lede almal betrokke met die saak wat die verskil gemaak het vir die klein bietjie geregtigheid dit is jammer hul is in die mag waar niemand meer respek vir die polisie het oor korrupsie soos die artikel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.