Drie polisiemans dood toe trok deur stopstraat ry

Die polisiemotor is 500 m ver gesleep voordat die vragmotor tot stilstand kon kom. (Foto: Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa/Facebook)

Drie polisiebeamptes is Woensdag dood toe ʼn vragmotor oor ʼn stopstraat gery en hul motor ʼn halwe kilometer ver gesleep het.

Die dood van die beamptes kom slegs dae nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sy jaarlikse gedenkdag gevier het.

Altesame 33 lede is reeds in die 2021-’22-boekjaar in die uitvoering van hul pligte dood.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê die jongste sterftes is “ʼn aanslag op die gesag van die staat”.

“Ons gaan nie toelaat dat misdadigers amok maak en doen soos hulle lus kry nie – ons kom vir elkeen van hulle.”

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê drie van die polisiebeamptes het Woensdagoggend in Vereeniging gery waar hulle besig was met ʼn misdaadvoorkomingspatrollie. ʼn Vragmotor het egter versuim om by ʼn vierrigting-stopstraat te stop en die beamptes se motor getref.

“Die vragmotor het teen die polisiemotor vasgery en dit minstens 500 m ver gesleep voordat dit eindelik tot stilstand gekom het.”

Kapt. Shashape Theletsane (58), ao. Aaron Mfazwe (54) en konst. Timothy Mbele (45) is op die toneel dood verklaar.

Volgens Mathe was die mans almal gesoute polisiebeamptes, met onderskeidelik 34, 26 en agt jaar diens agter die rug. Mbele was nege jaar lank vantevore ʼn polisiereservis voordat hy as ʼn permanente werknemer aangestel is.

Die vragmotorbestuurder is reeds in verband met die beamptes se dood in hegtenis geneem. ʼn Saak van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

Magte gemobiliseer ná nog ʼn beampte se dood

Masemola het die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, opdrag gegee om al sy magte te mobiliseer om diegene op te spoor wat glo drie polisiebeamptes en ʼn veiligheidswag tydens ʼn gewapende rooftog in Tembisa geskiet het. Een van dié beamptes het aan sy beserings beswyk.

Luidens ooggetuies op die toneel het ʼn groep gewapende mans vroeg Donderdagoggend by ʼn vulstasie op Andrew Mapheto-rylaan binnegegaan en die winkel van ʼn onbekende bedrag geld en sigarette beroof.

Terwyl die groep op die vlug wou slaan, het drie polisiebeamptes by die vulstasie se winkel ingegaan.

“Die verdagtes het dadelik op die beamptes en ʼn veiligheidswag begin skiet. Die beamptes het verskeie skietwonde opgedoen en hul dienspistole is gebuit,” sê Mathe.

Die beamptes en die wag is na ʼn hospitaal geneem, maar een van die polisiemanne het egter reeds aan sy beserings beswyk.

“ʼn Klopjag is aan die gang vir ʼn groep van minstens 15 verdagtes wat in ʼn Toyota Quantum en ʼn Toyota Corolla Prestige op die vlug geslaan het.”

Masemola het sy meegevoel aan al vier oorledenes se geliefdes betuig en het die beseerde beamptes spoedige beterskap toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Prikkie ·

Tragedie!

Hier waar ek woon steur ook byna niemand hulle aan stopstrate nie. Ironies genoeg is dit dikwels die selfde mense wat skel op die taxi bestuurders.

gpsa ·

Dis agv die taxis dat almal ry soos hulle wil. Hoekom moet mense pad reels gehoorsaam as taxis net doen wat hulle wil sonder nagevolge. As hulle ordentlik begin bestuur sal die algemene publiek dit ook doen.

Prikkie ·

Two wrongs does not make one right.

Kom ons stel die voorbeeld.

Delia ·

Dis regtig nie n sinvolle redenasie. Kom ons raak maar almal korrup want regering is korrup. Neee..

Koen ·

gpsa (kan net raai waarvoor dit staan) – is is self van die pad af.

Nie Verbaas ·

Na watter gesag verwys hy? Publiek het lankal geen respek vir die gemiddelde polisieman nie. Misdadigers nog minder.

Keelvol ·

Want die publiek maak en breek so hulle wil en speel akte maklik die slag offer. Tyd dat die publiek tot verantwoording geroep word.

Nie Verbaas ·

Is dit nie waar die polisie dan veronderstel is om in te gryp nie? Ons het tog gesien hoe effektief hulle was met die sogenaamde “Zuma plundering”

Kaal Keiser ·

I am entitled to disobey any form of rules and law… just because I can…

domheks ·

Net in SA! Geen padteken word aan aandag geskenk nie. Die mense dink die pad behaart net aan hulle – te hel met die res.

Cherokee ·

In Durban hou taxis in die straat tussen rooi ligte stil vir passasiers.

marius ·

Ons sal nie toelaat…. hol woorde want julle doen NIKS behalwe monitor .

Keelvol ·

Marius…. Kyk wat het in Marikana gebeur. Nou wil almal moord skree en die aggresiewe myners is nou almal “victims.”

Oosieoos ·

Hier in die Suidkus stop trokke gladnie by stopstrate nie hulle weet moteriste is bang vir hul masiewe trokke. Verkeersmanne bestaan nie hier nie hulle is nerens te sien nie. Het te veel privaat werk

Keelvol ·

Dis omdat mense in die land almal dink dat hulle bo die wette verhewe is.

Bushy ·

Is dit nie ironies dat ek al skuldig begin voel as ek by n stopstraat stop en die karre agter my ophou. Sommige drywers steek jou verby in n stopstraat as jy waag stilhou. As ek so persoon kan vang slaan ek al sy tande uit en sal dan sien in n hof. Sy tande eerder as die verlies van n onskuldige lewe. Tyd dat die wetsgehoorsame publiek begin videos maak en op sosiale media plaas. N nasionale databasis stig en videos plaas vir versekerings mastskappye om van sulke drywers
kennis te neem. Menigte bloedjong meisies stop nie eers by stopstrate nie. N nuwe kultuur in ons land.

christo ·

In Witbank word padtekens en veral stoptekens moedswillig verwyder. Trokdrywers jaag moedswillig oor rooi verkeersligte en verander bane sonder die inagneming van die verkeer wat reeds in die bane is. En natuurlik beteken die verkeerspolisie net mooi niks. Indien oortreders wel deur verkeerspolisie , behalwe die in die Wes-Kaap,afgetrek word, is dit om hulle persoonlike begroting aan te vul.

Willem Hendrik ·

Misdaad vier hoog gety.
Die nag in ons land het in n nagmerrie ontaard. Geen wyse mens sal by n verkeerslig of stopstraat stop. As jy n voertuig het is jy n teiken want die krimineel vrees nie meer die gereg en neem ek nie die drywer kwalik wat snags nie stop. Wel is dit n klag en klap na die regering en die onnosel mense hulle daarstel om die wet en orde te handhaaf maar liederlik ongeskool en onbekwaam daaruitsien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.