Drie ‘polisiemoordenaars’ in hof

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Die drie verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met Dinsdag se voorval waarin een polisiebeampte dood en ʼn tweede beseer is nadat hulle oorval, ontvoer en geskiet is, verskyn Vrydag in twee howe in KwaZulu-Natal.

Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes moet in die Pinetown-landdroshof verskyn waar hulle tereg sal staan op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

“Hulle gaan dan na die Ntuzuma-landdroshof geneem word waar hulle aangekla gaan word van moord, poging tot moord, ontvoering en roof,” het Zwane gesê.

Die verdagtes, tussen 18 en 26 jaar oud, se name sal bekend gemaak word nadat hulle verskyn het.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes is Woensdagoggend in Mariannhill buite Pinetown in hegtenis geneem nadat die polisie inligting van die publiek ontvang het.

“Die polisie het op drie vuurwapens, waarvan twee wat van die polisiebeamptes gesteel is, beslag gelê,” het Zwane toe gesê.

Die twee polisiebeamptes is Dinsdag omstreeks 12:50 na die Namibia-informele nedersetting waar hulle ʼn beskermingsbevel wou uitvoer. Met hul aankoms by die huis is hulle deur drie verdagtes oorval en hul vuurwapens is afgeneem.

Volgens Zwane het die verdagtes die polisiebeamptes gedwing om hul uniforms uit te trek, waarna hulle agterin die vangwa gegooi is. Die verdagtes het met die beamptes na die Ngcungcwini-gebied gery en hulle geskiet. Een van die beamptes is op die toneel dood. Die ander is met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.