‘Drie Poot’ eerste kameelperd met prostese

Drie Poot word versorg (Foto: verskaf)

ʼn Geliefde tweejarige kameelperd wat een van haar bene tydens ʼn stropingspoging verloor het, sal nou die eerste kameelperd ter wêreld word om ʼn prostese te ontvang.

Die prostese, wat spesiaal vir haar ontwerp is, sal dit vir Drie Poot moontlik maak om selfs net die eenvoudigste dag-tot-dag-oorlewingstake aan te pak waar sy in die Tholo-ekoreservaat by die Carousel-kasino duskant Hammanskraal woon.

“Soos ek dit sien, is dit die mens se skuld dat sy haar been verloor het, so dit is die mens se verantwoordelikheid om vir haar ʼn nuwe been te maak,” sê Munnik Marais, hoof van die kankervereniging vir diere in Suider-Afrika (SAACA).

Marais het hom ʼn ruk gelede oor die kameelperd ontferm en het SAACA sedertdien ingespan om Drie Poot met ʼn prostese te help.

Sy sal na verwagting oor ʼn maand al met ʼn vierde been kan spog.

Animotion, die maatskappy wat spesialiseer in diere-prosteka en -ortoptika, ontwerp Drie Poot se prostese op so ʼn manier dat sy dit vir die res van haar lewe sal kan dra.

“Sy is nog jonk, so oor 18 maande is die verwagting dat die prostese verleng moet word om te vergoed vir die lengte wat sy gegroei het. Daarna behoort dit haar die res van haar leeftyd te hou indien dit gereeld skoongemaak word,” sê Marais.

“Al verleng hierdie prostese net haar lewe met drie tot vyf jaar, glo ek dit is die moeite werd.”

Drie Poot se beentjies (Foto: verskaf)

Die proses om hierdie prostese eindelik aan Drie Poot vas te heg, is egter ʼn uitgebreide een wat meer geld vereis as wat Marais aanvanklik voor beplan het.

“Ons het ʼn kwotasie van R25 000 gekry vir die prostese. Ons was opgewonde, want ons het geweet dit kan maklik ingesamel word. Ons het nie besef daar is nog ander koste hieraan verbonde nie.”

Volgens Marais het hy in sy opgewondheid vergeet dat Drie Poot ʼn wilde dier is en dat die proses om haar eindelik op vier bene te kry, nie so maklik gaan wees soos met ʼn troeteldier nie.

“Ons moet ʼn kamp in die reservaat bou waarnatoe sy geskuif sal kan word. Wanneer dit gedoen is, moet sy mak genoeg gemaak word sodat mense die prostese aan haar kan vassit. Sy sal dan weekliks deur bewaarders hanteer moet word sodat die prostese skoongemaak kan word.

“Al hierdie onkoste word meer, maar ons gee nie op nie. Ons is vasberade om haar te help. Dit voel omtrent asof ons ʼn kameelperd aangeneem het,” skerts hy.

Drie Poot se bewaarders hoop dat sy vinnig mak gemaak sal kan word, aangesien sy nog redelik jonk is. Hulle is ook oortuig daarvan dat sy nie die prostese sal verwerp nie.

“Soos met ʼn mens is daar ʼn aanpassingsperiode voordat jy verstaan en aanvaar dat jy nou ʼn been het om op te loop en dit gaan dieselfde vir Drie Poot wees. Sy gaan geoefen moet word en enige probleme met haar heupe of die wond waar haar been geamputeer is, sal fyn deur die bewaarders dopgehou word.”

In hierdie stadium moet die bewaarders steeds kos aan bome vir Drie Poot hang aangesien sy nie kan buk om dit self beet te kry nie.

“Sodra sy die prostese kry, sal sy kan loop, eet en drink en hopelik ʼn normale lewe kan lei,” sê Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.