Drie poskantoorwerkers doodgeskiet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SA Post Office/Twitter)

Die polisie is op die spoor van ’n onbekende aantal verdagtes wat verbind kan word met die moord op drie poskantoorwerknemers in Flagstaff, Oos-Kaap.

Die vrouewerknemers is Maandag in die Jaca-nedersetting in Flagstaff doodgeskiet voordat ’n poskantoor op die dorp Dinsdag beroof is. Die polisie het nie bevestig of die twee voorvalle met mekaar verband hou nie.

Volgens AO Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het die verdagtes na bewering in ’n rooi of maroen voertuig op ’n wit Ford Ranger-bakkie, waarin die drie poskantoorwerknemers was, afgepyl en op dié voertuig losgebrand. Die werknemers, tussen 30 en 37 jaar oud, het noodlottige skietwonde opgedoen.

Drie sake van moord is by die polisie aanhangig gemaak.

“Die verdagtes en voertuig waarin hulle gery het, is steeds soek. Die soort voertuig is in dié stadium nog nie bekend nie,” sê Nkohli.

’n Poskantoor op die dorp is die volgende oggend omstreeks 08:00 deur drie gewapende mans beroof.

“Volgens inligting het die mans die poskantoor in Hoofstraat binnegegaan en die werknemers met vuurwapens aangehou. Hulle het ’n onbekende bedrag kontant en die werknemers se selfone gebuit voordat hulle gevlug het.

“Enigiemand met inligting wat meer lig op albei voorvalle kan werp, kan die ondersoekspan by 082 301 7762 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronél ·

Een bose kringloop, dit bly ook net by “word ondersoek” met min of geen arrestasies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.