Drie Prasa-hoofde op spesiale verlof geplaas

Prasa (Foto verskaf deur Untu)

Drie uitvoerende hoofde van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is op spesiale verlof geplaas en ʼn vierde hoof is geskors.

Die United National Transport Union (UNTU) verwelkom die besluit van die raad van Prasa.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, sê enige stappe om “die geruïneerde en bankrot Prasa” te red is ʼn stap in die regte rigting, alhoewel dit “baie lank agterstallig” is.

“Die regering het toegelaat dat Prasa só agteruitgegaan het, dat dit hoogs onwaarskynlik is dat enige stappe ʼn verskil sal maak. Die uitvoerende hoofde wat op spesiale verlof geplaas en geskors is, is slegs ʼn paar van die bestuurslede wat die afgelope paar jaar geïmpliseer is,” het hy gesê.

Lindikaya Zide, die maatskappysekretaris wat die afgelope twee jaar as groepshoof opgetree het, Chris Mbatha, hoof- inligtingsbeampte en voormalige werwingsbestuurder, en Tara Ngubane, uitvoerende hoof van Prasa se korporatiewe eiendomsoplossings, is op spesiale verlof geplaas. Tumi Mohube, algemene bestuurder van ondernemingsrisiko, is geskors.

Harris het bygevoeg die ouditeur-generaal het in Julie verlede jaar Zide se naam genoem as een van die Prasa-hoofde wat na bewering voordeel getrek het uit onbehoorlike oorbetalings. Die ouditeur-generaal het aanbeveel dat Zide net meer as R420 000 moet terugbetaal wat hy tussen November 2015 en Desember 2016 onregmatig ontvang het.

Mbatha, wat in 2013 by Prasa aangestel is, was een van die beamptes teen wie ʼn voormalige Prasa-werknemer in Julie 2015 ʼn klag ingedien het, na bewering oor voordele uit bedrieglike kontrakte.

Ngubane het in 2016 hooftrekke gehaal toe sy ʼn verhoging van 28% ontvang het ná sy as die uitvoerende hoof van Prasa Cres. aangestel is.

“In die geval van Mohube is daar in die media onthul dat Prasa in September verlede jaar met dissiplinêre stappe teen hom begin het vir beweerde korrupsie. Dit is vreemd dat Prasa so lank gewag het om hom te skors,” het Harris gesê.

Volgens hom is Untu besorg oor verskeie ander name van senior beamptes van Prasa wat in verslae en oudits genoem is, maar nie geskors is nie.

“Een daarvan is Nathi Khena, wat in Julie 2016 as Prasa se bedryfshoof afgedank is, maar later weer aangestel is. Die ouditeur-generaal het bevind Khena het verskeie bonusse en verlofuitbetalings ontvang vir die tydperk wat hy nie by die agentskap was nie en hy moet R660 000 terugbetaal wat hy onregmatig ontvang het.”

Harris het gesê die ouditeur-generaal het ook die loopbaanvordering van nog ʼn uitvoerende beampte, Pearl Munthali, gevolg van die posisie as hoof-inligtingsbeampte tot haar aanstelling in Julie 2014 as uitvoerende hoof van die Prasa-ontwikkelingstigting met ʼn jaarlikse pakket van R2,9 miljoen. “Daar is bevind dat sy nie geregtig was op toelaes wat sy ontvang het toe sy telkens na ʼn ander posisie verskuif is nie.”

Die ouditeur-generaal het bevind Munthali se aanstelling as uitvoerende hoof van die stigting was onreëlmatig, want daar was geen bewyse dat die stigting operasioneel was nie.

“Untu sal graag wil sien dat stappe onmiddellik gedoen word teen diegene wat geïmpliseer word, nie net sekere individue nie,” het Harris bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Grassie ·

Ek verstaan nie Prasa se optrede nie. Miljoene rande word gegaps maar die betrokkenes word op spesiale verlof geplaas, tien teen een nog met volle salaris ook. Word diewe dan nie meer gearresteer nie? Dit lyk vir my diefstal is vir die ANC-regering maar net nog ‘n Westerse konsep.

humor ·

En daar gebeur verder niks en hul beursies bly stamp vol goueponde.

cb ·

Ai Grassie en humor , slaan die spyker waar hy hoort, goed gese

Lekker lag ·

Net nog diewe. Selfde as gister, en afgelope 25 Jr. Tronk toe.

Gert van Wierdapark ·

“Spesiale verlof” beteken hulle moet tyd gegun word om goeie/duur regshulp te kry (op belastingbetalers se onkoste) sodat hul nie aan die pen hoef te ry nie, maar steeds OP die Blou/SOUSTREIN kan voortsnel! Te Hel daarmee!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.