Die polisie se eenheid vir bedreigde spesies is steeds op soek na die skuldiges nadat drie renosters die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle in die provinsie gestroop is.
In die eerste voorval is ʼn renoster naby Lephalale (voorheen Ellisras) in die Waterberg-distrik doodgeskiet.
“Dit lyk of die verdagtes nie tyd gehad het om die horings te verwyder nie. Die eienaar van die wildplaas het die karkas, vermoedelik tussen drie en vyf dae oud, tydens ʼn roetinepatrollie opgemerk terwyl hy in ʼn helikopter gevlieg het,” het kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, gesê.
Intussen is die karkasse van nog twee renosters Saterdag in die Gravelotte-omgewing, naby Phalaborwa, gevind. Die renosters se horings is verwyder.
“Die wildbewaarders het die wildreservaat gepatrolleer toe hulle die diere opgemerk en die polisie ontbied het,” het Ngoepe gesê.
Die stropers is steeds op vrye voet.
Mense met inligting oor die voorvalle kan kol. Alpheus Mokale by 082 565 6524 of kapt. Meyer by 082 319 9460 bel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
2 Kommentare
Ai gee mens sommer trane… wanneer gaan die gemors ophou?
Solank die Chinese in hul eenvoud glo aan die medisinale voordele. Plaas dat hulle net hul eie naels laat groei daarvoor…