Drie rowers dood toe wegkom-jaagtog skeefloop

Drie rowers is dood toe die motor wat hul kort tevore geroof het, omgeslaan het. (Foto: SA Polisie)

Drie gewapende rowers is dood en twee van hulle vermeende makkers beseer – maar wel in hegtenis geneem – nadat hulle wegkommotor omgeslaan het.

Polisielede en lede van die opsporingsmaatskappy Tracker het die bende agternagesit ná ʼn rooftog vroeër die nag in die Mpembeni-reservaat in die noorde van KwaZulu-Natal, het kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, gesê.

“ʼn 64-jarige man was glo by sy huis in die reservaat toe hy ʼn klop aan die deur gehoor en gaan ondersoek instel het. Hy het die deur oopgemaak en is dadelik deur ʼn groep mans terug in die huis gedwing. Hy is met ʼn vuurwapen gedreig.

“Hulle het die huis geplunder en twee selfone gesteel voor hulle in sy motor weggery het,” het Mbele gesê.

Die man het die polisie ontbied en die motor is na Ntuzuma nagespoor, waar ʼn jaagtog ontstaan het.

“In hulle haas om te ontsnap het die verdagtes beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol.

“Drie van die mans is op die toneel dood verklaar, terwyl twee ander onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem is. Die oorlewende verdagtes sal later op ʼn aanklag van gewapende roof in die hof verskyn,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zirk ·

Misdaad in SA is onbeheerbaar en onkeerbaar, punt. En niks sal verander as daar GEEN leierskap van owerheidsweë se kant af kom nie. Daar moet werk geskep word en ‘n TOTALE GESINDHEIDSVERANDERING moet van jongs af, soos vanaf laerskool by skoliere ingeskerp word.
Ons leef huidig in ‘n volmaakte INEPTOKRASIE.
D.i. ‘n vorm van regering waar die mees onbekwame om die kiesers te lei, verkies word deur die mees onbekwame om te produseer, en waar die bevolking wat die minste in staat is om hulself te onderhou, of op enige gebied suksesvol te wees, vergoed word met goedere en dienste wat gekonfiskeer word by die welvarendste van ‘n kleiner wordende getal produserende bevolking.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.