Drie ‘rowers’ doodgeskiet voor hulle kon toeslaan

Die R100 000 kontant waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

Wetstoepassers in KwaZulu-Natal sê hulle het ’n gewapende rooftog voorkom deur drie verdagtes net betyds voor te keer.

Verskeie lede van die polisie se spesialiseenhede het die drie se planne gister op die N2-snelweg aan KwaZulu-Natal se Noordkus in die wiele gery nadat die polisie inligting oor ʼn beplande rooftog ontvang het.

Brig. Jay Naicker, KZN-polisiewoordvoerder, sê die polisie het ʼn voertuig met drie insittendes op die snelweg naby Mandeni gewaar. Die voertuig het aan die beskrywing voldoen wat hulle ontvang het. “Toe die polisie hulle probeer aftrek, het die insittendes na bewering op die beamptes losgebrand.”

Hy sê al drie verdagtes is noodlottig gewond tydens die skietery met die polisie. “Gelukkig is geen polisiebeamptes gewond nie.”

Die polisie het die voertuig deursoek en op drie ongelisensieerde vuurwapens en ʼn hoeveelheid ammunisie afgekom. Die vermeende rowers het ook R100 000 in kontant by hulle gehad.

“Volgens speurders is die verdagtes vir ʼn aantal gewapende rooftogte in die provinsie gesoek,” sê Naicker. “Na bewering was hulle deel van ʼn groep wat ʼn polisiebeampte tydens ʼn transitorooftog geskiet het wat die polisie verlede maand op Empangeni gefnuik het.”

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes geloof vir hul proaktiewe optrede. “Ons wil misdadigers waarsku om nie oorlog teen die polisie te verklaar nie omdat hulle aan die kortste end sal trek.”

Hy waarsku kriminele moenie die polisie se vermoëns uitdaag wanneer hulle met vuurwapens betrap word nie. “Wanneer die polisie hulle konfronteer, raai ons hulle aan om wapens neer te lê en vreedsaam oor te gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Liberaal ·

Zero tolerance druis teen linkse liberale waardes in. Liberaliste beskerm die misdadiger meer as die slagoffer. As jy nie van linkse waardes hou nie, moet nie die linkse massamedia en hulle adverteerders ondersteun nie.

rafel ·

Is ek verkeerd as ek se dit lyk of KwaZulu Natal die enigste provinsie is wat rowers gereeld vastrek of raakskiet.

Liendempers ·

Dink jy is reg, ek het dieselfde gedagtes gehad terwyl ek die berig lees.

Ben ·

Waarom is hierdie hoegenaamd nuus? Die SAPS sou beslis nie naby gewees het as hul nie vooraf ‘n wenk ontvang het nie…….

·

Die polisie is nie bonatuurlike wesens wat almal se gedagtes lees nie. Dit sal meer suksesvol raak as die gemeenskap betrokke raak en misdaad rapporteer en saam werk. Hulle kan mos nou hoegenaamd nie van almal se doen en late weet nie…

Casper Labuschagne ·

Kudos aan die polisie in KZN. Hier in die Vrystaatse platteland moet ek ongelukkig steeds wag totdat ek eers self beroof is voordat ek myself mag verdedig, en dan net tot dieselfde maat as waarin die geweld teen my is. Dus mag ek nie self rowers doodskiet voordat hulle my eers doodskiet nie.

Wilma ·

Wow. Welgedaan beamptes betrokke. Die persoon wie inligting verskaf het aan polisie jy het dalk deur nie stil te bly ni mense se lewens gered. Baie dankie daarvoor

piper ·

die polisie in natal vat nie nonsens nie. elke week vat hulle misdadegers uit of hoor ons net nie van gevalle in ander provinsies nie.

Jannie ·

Skote Petoors!! Ons soek nog baie meer sulke goeie nuus van oral in die land!!

Adri ·

Kan die slim mense vir my verduidelik hoekom ek nie die foto’s in MM se berigte kan sien nie?

Cherokee ·

Dan moet jy aan die slim mense verduidelik waarmee jy die nuus lees. Die foto in die betrokke berig is in jpg formaat en jy het ‘n jou sisteem ‘n jpg-viewer nodig om dit te kan sien.

Petrus ·

Moenie oorgee nie die tronke is al oorvol en begraafplase het baie plek.

thelsa ·

Met R100 000 in hulle besit betrap voor ‘n beplande rooftog ???
Lyk my dit rooftog was klaar gepleeg gewees.

Karin ·

Na rooftog sou dit aansienlik meer gewees het. Saffas kan ook darm net nie die goeie raak sien nie, altyd iets om oor te moan. Gn wonder die wereld soek nie meer SA nie.

Casper Labuschagne ·

@thelsa, daardie R100,000 was versekering vir indien hulle dalk gevang of voorgekeer sou word, sodat hulle iemand vorentoe kan omkoop om weer los te kom.

willemien ·

Lyk my almal is bly. 3 mense doodgeskiet oor R100 000.
dis nie eens geld nie. 3 gesinne is op die kop gekeer. kinders sit nou vaderloos.
miskien is ek oor sensitief, maar dis nou nie vir my iets om oor te spog nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.